Ek is op 'n vroeë vlug Kaap toe en soos mens op 'n Sondag vroeg opstaan vir werk, pak, lughawe toe ry en wonder of jy alles het dink ek terug aan toe vlieg 'n groot storie was. Ek kon tot op 'n stadium in my twintigs tel hoeveel keer ek op 'n vliegtuig was.
Daar was die Durban en terug vlug. Die standerd vyf Kaapse toer waar ons af gevlieg het Kaap toe en per bus teruggekom het. Die vlug België toe na skool om te gaan Au Pair. En terug. Enkele werksvlugte insluitend 'n paar dodgy trips Phalaborwa toe in die myn se klein vliegtuig...maar nou, dis honderde? Duisende? Vlieg het sy magic verloor. Dis soos om in 'n Corola te Uber.
Ek was die eerste keer in my lewe op 'n vliegtuig toe ek in standerd een was. Dis graad drie in vandag se terme. Ek was seker so nege. Ek het van Jan Smuts lughawe af Durban toe gevlieg. Jan Smuts het Joburg International geword voor nog 'n naamsverandering dit OR Tambo gemaak het.
Ek het alleen gevlieg, my ouers het gedink mens het life experience nodig. As onvergeselde minderjarige vlieg mens met 'n plastiek pouch om jou nek wat in HOOFLETTERS skree "Onvergeselde minderjarige / unaccompanied minor" en jou boarding pass is dan in die sakkie.
Almal kyk vir jou uit en sorg dat jy betyds board, op die regte plek sit ens. Dit was natuurlik ook in die tyd wat daar net een airline was en SAA se in flight magazine se naam iets soos die Springbok was. Die grappies was nogal cool vir 'n nege jarige.
Ek was op die vliegtuig, moer nervous langs 'n gawe ou omie. Die vliegtuig strike turbulence en dit voel of die ons kilometers val voor ons weer opwaarts en vorentoe vordering maak. Daai oom het my kalm gehou en vir my gesê die Care Bears bly in die wolke met die blitse en donderweer waar ons deur gevlieg het.
In Durban aangekom is ek en my sakkie dadelik na Ouma en Oupa toe. Hulle het in die Bluff gebly, nie naby naby aan die see nie, maar mens kon die see sien. Hulle het so steil erf gehad teen 'n berg en ek kan onthou mens moes jou klim ken om aan die onderkant van daai erf te kom.
Op pad huis toe vra Ouma in haar Milady's rok en pantyhose of ons gou by die see moet stop. Vir 'n kind wat in Middelburg, Oos-Transvaal grootword is dit soos om te vra of lug blou is en so stop ons by die Durban beach front. Ek wil nog my swemklere kry, nee sê Ouma, plas sommer so in jou jeans. Ek moes seker geweet het iemand wat in pantyhose beach toe kan gaan, gaan nie te veel worry oor my oulike costume met die ladybug kolle op nie.
Dit was 'n heerlike vakansie waar Oupa my weer van Helen Suzman vertel het. Ek dink altyd my Oupa het 'n secret crush op Helen gehad. Sy was 'n moeilike tannie wat seker ook maar pantyhose gedra het en baklei het vir gereg en regverdigheid in 'n tyd wat daar nie te veel reg en geregtigheid in ons land was nie. Hy het ingeteken op printed copies van die transkripsies van Parlementêre sittings en as amper tienjarige was ek fascinated met politiek en die mense wat oor politiek berig moet doen.
Ouma het melkbottels gewas en klein spoel klippies in 'n bedding gehad waarmee sy die bottels skoon skoon gekry het. Dan sit mens koupons in die bottels, sit die bottel sonder klippe met koupons voor die deur en die volgende oggend het jy melk. Voila. Magic!
Oupa het my leer snoeker speel, in die kelder van die Durban huis. Dit het soos muf geruik in die kelder en snoeker is 'n groot game op 'n groot tafel vir 'n klein dogtertjie. Daar was 'n mikstok en ek moes amper al my shots met die mikstok op 'n stoel vat.
As mens terugdink aan die goed wat mens by Oupa en Ouma se huis in Durban gedoen het, is dit eintlik amazing. Hulle was ouerige mense wat 'n standerd een kind laat snoeker speel het terwyl hulle haar aan hectic politiek, die apartheid version, voorgestel het. Dis amper veertig jaar later en ek onthou die goed steeds. Oupa wou redeneer en filosofeer, selfs met nege amper tienjariges. 'n Feminis ek sweer. Ek hoop hy het vir Helen in die hemel gekry, en ek hoop hy en Helen het dalk antwoorde vir wat nou in die wêreld aangaan, want ek en ons politicians het verseker nie.
Nou kyk ek vir my eie kinders, Liam sal maklik op 'n Air Zimbabwe vlug klim, 'n chicken op die dak vasmaak en sorg dat hy in Harare kom. Luka kan nie alleen Pringles gaan koop by 'n show nie. Liam sal dalk 'n beter job doen om die land te run as die huidige mense in beheer en selfs skaam Luka het beter planne om Eskom te fix as die nuwe minister.
Ek blameer hoe kinders nou grootword op die fall of SAA en die feit dat mens nie meer 'n sakkie kry om om jou nek te hang wat sê "onvergeselde minderjarige" nie. Ek blameer Eskom, want daar is die krag nie, ek blameer die Polisie, want dis nie veilig nie. Ek blameer wie ook al in charge is van potholes. Mens kan nie reg dink en redeneer en filosofeer as "pothole dodge" elke oggend se aktiwiteit is nie. Kan ons nie asseblief net weer politicians soos Helen kry nie?
Комментарии