top of page
Search

Bestuur...

  • nikivanwyk
  • Jan 5
  • 7 min read

Ons wil dit dalk nie erken nie, maar ons is beslis middeljarig. Toe ek 17 was, was mense nader aan 50 definitief stokoud. Hulle het hulle hare geperm en graag by Milady's rokke gekoop met belde wat veronderstel was om `n middel te maak, en die funky tannies het aerobics by Tannie Poppie Kern gedoen in hulle leotards en legwarmers, maar die meeste mense was maar net oud.


In 1995 moes ek vir bestuurslesse gaan by Bernie van Bernie's driving school. My Pa het my eers self probeer leer, met `n groot SUV ding, `n Nissan Sani, en dit het nie so goed gegaan nie. Die laaste was toe ek op die plaas by die hek moes indraai en hy kon sien ek gaan die hekpaal waarskynlik mis, en hy steek sy hand uit om te keer en `n spyker in die paal sny sy hand so erg oop dat ons oor `n naweek op Machadodorp `n dokter moes gaan soek. Tanja (my sussie) moes nog die lig vashou dat die oom die steke kon insit. Ek het net gehuil.


Bernie se kar was rooi. Bernie het my baie mooi geleer K53, observeer, briek, kar uit rat uit, handbriek op, observeer so paar duisend keer, kar in rat, handbriek af, trek weg, repeat. Op my 18de verjaarsdag is ek weg lisensiekantoor toe en Bernie se advies: Dra praktiese bestuurskoene soos tekkies, en `n kort rok, want jy gaan hulp kort. So kry ek `n lisensie na die oom wat my toets ook vir my vertel die kar het so effens Kangaroo Juice in, maar dis ok.


Ek is nie mal oor bestuur nie. As mense liries raak ook V8s en karre sê ek baie 'mmm' en 'aah'. Ek weet ek hou van `n Mini Cooper, en ry nou my tweede praktiese RAV4 (na die eerste een onteien is hier in Midstream). My karre in my leeftyd was: 1 Oranje (Gerhard sê Kapoen) Mini Cooper paneelwa. Daai Mini was die OG en het drie ratte gehad. Ek moes R20 se petrol en R80 se olie op `n slag ingooi. Die Mini is gevolg deur `n Nissan Champ Bakkie. My eerste kar wat ek met my eie geld gekoop het was `n shocker, `n Ford Fiesta wat `n dud was. Die is gevolg deur `n Volkswagen Polo, een of ander wit boer bakkie sonder aircon, `n Toyota Yarris, `n Volkswagen Jetta, `n RAV 4 vir 4 weke in Australia, `n Blou Mini Cabriolet, `n Wit Mini Cabriolet, `n Wit RAV 4, `n Groen RAV 4. Die trend hier is duidelik Toyotas en Mini Coopers, so as die kinders eendag die nes verlaat koop ek verseker weer `n Mini, of as dit `n Toyota moet wees, `n lekker ene soos `n FJ Cruiser. Al wat ek wel weet is Toyotas se dienste is baie meer bekostigbaar as Mini, en niks breek ooit regtig nie. As daar `n self driving Mini of Toyota is, count me in. As ek super ryk was sou ek ook (nes my kinders), `n drywer gehad het. Maar my drywer sou my kar bestuur. Ons kinders praat van Au Pair Karre, klein goedjies met motorfiets engins waar mens altyd effens naar voel.


Nou is dit die einde van 2025. Liam ry `n jaar lank scooter (met `n motorfietslisensie wat jy op die derde keer eers gekry het. Hy verjaar in Junie, maar speel in die jaar 2025 heeltemaal te veel rugby om enigsins te worry oor `n learners. In November besluit ek om sake in my eie hande te neem en ek maak `n afspraak vir die learners twee dae na die eksamen. Dit los Liam met een hele dag om te leer. Die kind kry sy learners en is kwaad vir homself, hy besef nou eers hy het uitgemis op 6 hele maande van bestuur. Hy wil net ry, hy was nog nooit so opgewonde om sy sussie 10 uur in die aand by `n kuier te gaan haal nie. Brood en melk, no problem! Ons moet gaan petrol ingooi, natuurlik!


Ons ry George toe vir die jaarlikse van Rooyen see vakansie. Gerhard in die Cruiser, manual, moeilike ding om te bestuur, ek volg die jaar in die Prado, `n goue oue. Die Prado het nie adaptive cruise control soos my kar nie, Luka sit in haar business class seat by my en Liam ry saam Gerhard, waar daar nie eers cupholders is nie. Gerhard reken die pad is te besig vir `n 17 jarige, maar na Colesberg mag die kind maar bestuur. Ek was vas oortuig its a boy thing en hy sal die Cruiser wil bestuur, nee, dit reën, die Prado is beter.


Net daar word ek die learner driver se instructor, in die reën moet ek hom leer trokke verby steek op `n enkelbaan pad...Die kind bestuur regtig mooi, maar hy word in `n estate groot waar die spoedbeperking 30 kilometer per uur is. Nou gee jy hom `n kar wat 120 kilometer per uur ry, in die reën, met trokke en sy pa en sussie ry voor ons, so kan jy imagine ons ry in hulle vas?


Ons het sonder insident op Graaf Reinet aangeland, daar was wel êrens `n stilstaande trok en ons moes briek, en ek moes sê 'briek, briek, BRIEK!!!!" maar behalwe vir dit, redelik sonder drama. Gerhard moes ons natuurlik weer berg op sleep om die Valei van Verlatenheid te gaan aanskou - Liam agter die stuur van die Cruiser die keer. Ek word mal naby passe, berge, klippe, hoogtes, maar die keer het ek myself gedra en selfs soortvan die view gaan aanskou. Amazing hoe mens effens kan relax as jy nie dink jou klein kinders gaan van die berg af val nie.


Die volgende oggend klim Liam weer saam my in. Ons moet weer goed verbygaan, onder andere `n klein karavaan van karavane. Die paaie daar deur die Karoo is smal en as mens `n goeie gap kry dan gaan jy verby. Gerhard en Luka is maklik by die karavane verby, Liam het besluit ons sit maar, ons gaan almal saam in George aankom. Maar na `n ruk bou hy moed op en ons gaan en ek sê "Steek hom" en hy steek hom toe so erg dat ons 160 kilometer per uur ry, seker nie my finest moment as a mother nie, maar ek hou ook nie van verbygaan nie - mens trap maar daai petrol.


So kom ons vir ons pitstop op Willowmore en daar connect Liam sy iPhone aan die Prado sodat ons na sy musiek kan luister, ek moes daar al `n gin geskink het, want toe luister ek Kanye West. My gunsteling deel van die trip is die deel oor die Outeniqua berg...ek love mos `n pas, en `n pas wat kronkel, waar ek vas oortuig is Gerhard gaan van die berg af ry soos hy vir die view kyk. Dis HOEKOM ek met my eie wiele in George wil wees, dat EK oor die berg ry. Ek het in my wildste drome nooit die scenario sien kom waar ek saam my sewentienjarige oor die berg gaan ry nie.


Ek briek al met my regtervoet voor ons op die pas is. Ek hou aan die centre console vas. Ek wil kalm bly en nie `n nervous pas-ryer grootmaak nie. Maar toe daai kind in die geel streep begin ry, op `n pas, toe moet ek maar hard praat - mens kyk vir die pad, mens ry stadig. Toe hy begin petrol trap IN `n draai, OP die pas, toe is ek nie meer so happy nie. "BRIEK!" sê ek, nee nie so BAIE BRIEK NIE. En hy begin vir my sê ek maak hom nervous en en sê vir hom hy maak my nervous en daar bereik ek my upper limit van ry saam die kind, maar ons is in die middel van die pas so ek knyp maar my oë toe en ons ry.


Toe ons in George stop is ek nog effens bewerig, maar ons is hier, in een stuk. En gelukkig is dit al lankal reeds middag en ons kan by die klubhuis gin gaan drink.


Die vakansie is soos elke ander vakansie op die Tuinroete. Ons dek `n wye area van Kingswood tot in Stilbaai so agter die kinders aan. Dis hoekom ons met twee karre kom, sodat een kan shop of golf speel of whatever en die ander een Klein Brak, of Diaz, of Stilbaai toe kan roadtrip. Ek spandeer mos nie my dae in die Midstream to Sandton gemors vyf dae van die week nie.


`n Paar dae in Desember in besluit Luka sy wil leer golfkar ry, en jy gaan my nie glo nie, maar daar begin die foltering van voor af. Luka wil met twee voete bestuur, so naderhand is ons suksesvol dat sy briek en petrol met net die regtervoet aandurf. Sy is so happy sy sing vir ons (of haarself) Californication. En sy praat, non-stop! Sy vertel my hoe sy verlede jaar 12 druiwe onder die tafel geëet het en so die beste jaar ooit gehad het. Sy vertel my van haar nuwejaarsvoornemens. Sy praat my uitasem uit. Dan, nes Liam, beduie sy wild en wyd en haar hande is effens los op die wiel. En dan, my absoluut gunsteling, as iets skeefloop trap sy, whatever comes first, en soms is dit die petrol, om die draai en soms is dit die briek. Maar nou ja, sy stop ook gereeld om die views te admire en die sunset af te neem en sy sê vir my ek is mooi.


Toe ons by die huis stop is ek nog effens bewerig, maar ons is hier, in een stuk. En gelukkig is dit al lankal reeds aand en kan kan `n groot gin skink, ek was juis mos by Inverroche om op my travels Stilbaai toe en terug!


Ek kan sê bestuur is maar soos alles in die lewe, hoe meer jy dit doen hoe beter word jy. En met Liam en Luka wat so wye gebied dek van Wilderness tot Stilbaai kry die kind baie myle op sy kerfstok. Ek begin al klaar dink aan die terugtog, oor die berg en ek wonder of ek nie maar vir John Wayne van Rooyen moet oortuig om my sy perd te leen nie. Ek ry liewer daai Cruiser in derde rat oor daai berg as om weer saam my tiener passe te ry!


Naskrif:

Liam is oujaar saam Bea Diaz toe in `n taxi. Hy het 1 Januarie 2026 omstreeks 2:30 tuis gekom. Hy het besluit hy wil eerder slaap as bestuur. Genadiglik ry ek myself toe oor die pas op pad huis toe. Liam het op Graaf Reinet die wiel gevat, die keer met nuutgevonde confidence na drie weke se bestuur in die Cruiser, ek voel veiliger as ek die kind voor my sien bestuur en ek weet ek dek die agterhoede met die Prado. Ek kan plek maak vir hom om trokke verby te steek sonder dat iemand moet skree 'steek hom'.



 
 
 

Recent Posts

See All
Botswana & Kamp

As jy ooit in Botswana wil kamp, is die belangrikste van alles om `n man te kry wat vir jou so lief is soos wat Gerhard vir my is. Net...

 
 
 

Comments


Subscribe Form

Thanks for submitting!

©2021 by Niki van Wyk. Proudly created with Wix.com

bottom of page