Ek wou nog op Facebook kom sê dankie vir al die birthday wishes. Ek het vreeslik lekker verjaar in die jaar 2021, `n Corona Birthday, my eerste! Ek was ‘unplugged’ vir my birthday so ek vang steeds op met die goeie wense.
Ek onthou my 2020 verjaarsdag was ook maar `n vreemde een en ek moes Liam smeek om saam my te kom uiteet, daarna moes ek twee Aperol Spritze drink om twee sonbrille vir my kinders te kry. Liam was vas oortuig ons sou corona virus optel al was daar nog nie op 28 Februrie 2020 corona gevalle in SA nie. Het ek ook toe geweet wat ek nou weet oor die aanhoudende drank aan, drank af, het ek dalk `n derde en vierde Aperol gedrink dat ek en Gerhard ook maar sonbrille kon hê.
In elk geval. Verlede jaar was ek op my verjaarsdag by die oogarts, `n bedekte seën, want wie sou kon dink dat my bril vir `n jaar lank my enigste fashion accessory sou wees en dan ek vir `n hele jaar lank pantoffels en geen grimering sou dra nie. Dat daardie bril noodsaaklik geword het aangesien `n jaar van praat met `n computer my basies blind gemaak het?
Wel, so sien Gerhard toe vroeg in die jaar, ek dink so om en by die tyd van die groot digitale skool debakel, dat as hy my nie net vir selfs `n klein rukkie gaan wegkry van die madness nie, ek verseker mal gaan word. Ek het so bietjie mal begin word. So pak ons toe ons tasse en gaan sonder ons kinders weg vir drie hele aande. Hamilton’s Tented camp was die regte medisyne. Ons kom daar aan en daar is geen selfoonsein nie. Niks, nie eers `n strepie nie. Daar is nie wifi nie, maar as jy die game ranger vra, dan sal hy so draai met jou ry dat jy darem jou whatsapps op `n kol optel en darem `n boodskap kan uitkry na die buitewêreld dat jy nie dood is nie. Ek wou eers `n paniekaanval kry, want ek was lanklaas so lank weg van my emails af, maar hey, it was worth a try!
Daar is net ses tente so daar kan net twaalf gaste op enige gegewe stadium wees. Ek en Gerhard is gewoonlik daardie mense op so vakansie – jy weet die wat met niemand praat nie, want ons is nou nie hier om vriende te maak nie. Ons wil ons boeke in vrede lees, smile en wave, moet dit nou nie gaan staan en vir ons almal ackward maak en met ons praat nie. Vermy oogkontak, maak of jy nie die ander mense sien nie.
Wel, miskien is dit die gevolg van `n jaar se alleen by die huis werk, of al die kinder-geselskap, maar na ons op aand een se game drive papsopnat reën, begin ons sommer lekker met ons mede gaste aan die kuier raak. Seker iets daaraan na jy saam nat biltong staan en eet, want jou gids deel ponchos uit en slaan sy tafel op al drup die water van ons eyelashes af. Dan staan jy maar en drink jou gin uit die kristalglas. Ons praat en kuier te lekker oor aandete en breakfast. Almal in die kamp het al covid gehad behalwe ek en Gerhard, so mens is nie so bang vir mekaar soos wat ek vir die mense by Checkers is nie! Daar is wel ook `n ander klompie gaste wat na aand een sak en pak weer terug donder Gauteng toe, want nee, hulle kan nie sonder wifi nie. Die drie tieners weet nie hoe om met hulle ma te praat nie, en mens kon na die mense se groot bohaai oor elke maaltyd ook sommer voel hoe die hele kamp `n gesamentlike sug van verligting gee. So is ons net ses mense en ons gesels land en sand.
Ek dink dis die ding van die simpel covid jare, daar was nie te veel sleg wat met ons gebeur het nie, maar daar was ook nie te veel goed nie. Ons het niemand nuut ontmoet wat jou siening oor die lewe verander nie. Ons was nie by nuwe plekke nie, ons het nie enige live entertainment gehad om na uit te sien nie, selfs die flieks was ons moes kyk vir afleiding was OU flieks! Ek kon nie lank genoeg konsentreer om enige goeie boeke te lees nie, ek moes my entertainment uit die Huisgenoot kry en selfs die Huisgenoot se stories was swaar en alles covid related in plaas van die ligte vermaak oor ons so called celebrities!
So kom ons toe na drie dae terug, vet en gelukkig want chef Lucy se kos is wragties iets om oor huis toe te skryf, en daar is twee keer vir my gesing vir my verjaarsdag, een keer in die bos soos die son sak met `n gin in die hand. Die tweede keer die hele span wat vir aandete aan diens was, nie die gevrekte Afrikaanse weergawe nie, die “Heppie, heppie Birthday version” in Engels, Shangaan en Italiaans nogal, met `n koek en `n happy dans. As die mens wat vir `n jaar lank skewe verjaarsdagkoeke moes bak en lockdown parties moes improvise was die `n moerse treat!
Om natuurlik in `n kamp in die wildtuin te bly sonder heinings, waar `n game ranger jou met `n flits kamer toe moet vat om die olifant voor jou tent se voordeur weg te shoo en om vir die leeus te luister terwyl jy slaap is spectacular! Om iemand te hê wat soggens vir jou koffie maak met `n plunger op `n wit tafeldoekie en dan gooi hy `n ruim skeut Amarula in remind ons hoekom ons in Afrika bly. Ons jaar van by die huis bly het nie altyd vir ons die geleenthede gegee om die mooi van Suid-Afrika te experience en te onthou nie. Mens mis die reuk van die bos.
So, ek voel weer beter, ek kap aan. Ek dra make up al staan ek in my spaarkamer en werk. Ek het skoene gekoop en die Superbalist mense dink nie meer ek was `n covid slagoffer nie. Best of all, ons begin stadig weer kantoor toe gaan, met ons maskers, halfte op `n slag, maar selfs daar is kantien kos wat ek nie moes koop of kook nie. Long may it last, halala Afrika.
Comments