Daar is `n paar goed in die lewe wat mens moet ervaar voor jy dit heeltemaal verstaan. Een so ding is dat hare weer groei. Ek onthou so nou en dan my eerste en enigste perm. Ek was in Standerd 6, eerste jaar van hoërekool en ek wou met alle mag en krag `n perm hê. Ek wou my hare nie net perm nie, dit moes kort ook. Ek wonder soms tog of die verf van die tagtigs wat so vol lood was, nie mens se denkvermoëns aangetas het nie?
So is my ma toe met my na een of ander fancy haarkapper in Middelburg toe. Die salon se naam was Maison de Coiffeur, in Middelburg bekend as 'Mason se Kafee". Na ure en ure loop ek daar uit en ek lyk soos goldilox. Nee, nie soos gouelokkies, die karakter in `n sprokie nie, ek lyk soos actual goldilox. Die goed waarmee mens potte skrop!
Die ergste ding van `n perm is dat jy nie net opstaan en jou hare is reg om te gaan nie. Nee, mens moet produk insmeer en met die hare karring en torring tot jy eventually jou moer strip en die huis in elk geval verlaat, goldilox of te not. My ma se een vriendin het kom probeer help en spons krullers en selfs nog mouse en alles gebring, maar nee. So het ek vir wat voel soos maande rondgeloop. Toe ek die perm uiteindelik uitgegroei het, het ek van daar af lang reguit hare gehad tot ek weer erens op `n kol die plot verloor het en my hare lesbian biker chick kort gesny het en swart gekleur het. Dit was die ultimate wash and go haarstyl, maar ek dink nie op my ouderdom nou kan ek die look meer af pull nie. Niks teen lesbian biker chicks nie, I get it, dis `n helmet proof haarstyl, dis maar al!
In lockdown het ek erens Luka se hare self gesny. My haarkapper is ver en teen die tyd wat ons daar kom het Luka gewoonlik al van besluit verander en dan sny ons letterlik kwarte van millimeters af en dan voel ek so half of ek dalk eerder `n koek kon bak in die travel tyd. So koop ek `n kam en skêr op Takealot en ek knip. Dis nie sleg nie! Sy het skouerlengte hare wat actually nie te skeef is nie. Sy love dit en kan dit self was, blowdry en in ponytails maak.
So ruk terug besluit sy ek moet weer sny. Maar sy was self haar hare en maak toe `n klok (horlosie) vir tegnologie. So is die hare kurkdroog teen die tyd dat ek sny. En ek weet nie wat ek doen nie, maar daar sny ek `n kort bob. `n Skewe kort bob! Luka het heart palpitations en loop en praat met haarself. Woorde soos 'panic attack'. Ek voel soos `n idioot, ek is `n maatskappysekretaris, wat weet ek van hare sny! Ek gaan myself dood skaam as ons wel eendag weer by `n gekwalifiseerde haarkapper uitkom! Dag een maak ons twee stokstywe ponies. Die kind se oë trek elkeen na `n ander kant van haar kop toe, so styf! Ek spuit `n ruim dosis produk in en karring so bietjie tot sy normaal lyk.
`n Paar dae later begin sy in die spieël met die kort skewe bob speel en die volgende oggend doen ons hare met die skêr, ek sny van die skewe dele effens reguit, maar nie te veel nie, want ek is nou bietjie bang, en daar is sy weg met los hare en twee klein ponies. Ons is nou op die stadium waar ons sulke stywe bollas maak, sy noem dit haar horinkies en die maatjies 'boep boep' dit.
Sy het op 10 die les geleer dat hare weer groei, en al wat mens nodig het is `n goeie attitude en so twee weke en dan is alles weer normaal en almal is gewoond aan jou avant garde styl. Sorry Luka! Ma sal nie weer nie! Dis steeds beter as die kuif wat jy so paar jaar terug vir jouself gesny het toe jy die girl van die Antwoord `n go gegee het met die look.
Comments