top of page
Search
  • nikivanwyk

Tegnologie




In die van Rooyen huis, moet die ouers klokslag elke twee jaar hulle telefone opgradeer. Daar is twee kleiner van Rooyens en `n Zimbabwean huishoudster wat ook 'nuwe' fone kort. Luka kry my telefoon, ek hou van groot fone met smart penne en pienk covers en Liam kry Gerhard se foon, hy hou van kleiner no nonsense fone met deurskynende covers. Sekai vat whatever eerste beskikbaar is en het nie fiemies oor covers ensovoorts nie, sy wil net kan Whatsapp Zimbabwe toe, dag en nag praat sy met die familie in Zim, hard, mens hoor haar as jy in die waskamer of garage is.


Gerhard is altyd effens agter op die upgrade plan. Die ergste was 2023 toe hy `n hele jaar na hy kon upgrade, steeds nie upgrade nie en arme Liam al begin opgee op sy hoop op `n 'nuwe' foon. Gerhard hou nie van verandering nie, hy kan nie sy passwords vir sy apps onthou nie. Sy fotos is nog op `n SD kaart wat in die laaste foon pas. Liam se foon het gebreek en so is hy op `n ou, ou foon wat `n rattle het en waar die kamera nie werk nie. Hy kan nie Samsung pay op die foon gebruik nie, en dis my ou foon, so die foon is groot met `n pen en `n sparkling cover. So oortuig ek vir Gerhard in Desember om te gaan upgrade. Ek laai hom self in die kar, ry met hom na die winkel in Midstream toe en so, op `n random Saterdag in Desember, upgrade hy sy foon. Met die dat hy nie van verandering hou nie, sit ons in die winkel en die vriendelike Chatz employee help hom mooi, soos hulle al die ou mense help om alles te copy en te transfer. Dit vat lank. Langer as wat dit moet, maar om in Midstream se Chatz te sit is nogal iets om te beleef.


Midstream het baie ou mense, hulle bly in Retire at Midstream, of by hulle kinders. Ek was self al in die winkel, wat Vodacom produkte verkoop, dan kom ou mense met hulle Cell C kontrakte daar aan en die mense van Chatz help hulle so mooi. Die werkers moet werklik medaljes kry. Die ou mense bring egter glo vir hulle melktert en cadburry's slabs vir hulle moeite. As mens vir die mense in die winkel vra hoeveel ou mense kom per dag in, dan smile hulle net en sê nogal baie! Hulle help om simkaarte te unlock, reset passwords, hulle delete al die Whatsapp images, ou mense like dit om elke oggend vir mekaar prentjies te stuur wat sê "Good morning", baie inspirational goed wat die foon vol en stadig maak. Niks werklike Vodacom probleme nie.


So sit ek en Gerhard, en daar kom `n ou oom in. Hy is baie oud, baie klein, baie krom, en baie vol plooie. Hy praat ook baie hard. Hy staan buite die deur van die winkel en vra (kliphard) vir die een employee wat ook buite staan: "Is Thabo in?" Nee beduie die man, Thabo is af. "Is Thembi in?" Weer `n kop wat skud, Thembi is ook nie in nie. "Then I am afraid you will have to do" sê die oom en hy en Alex loop in en gaan dit by die lessenaar.


Gerhard spot altyd oor my goeie gehoor, ek het regtig super sonic ore. Maak op vir my super slegte sig. Ons sal in `n restaurant sit en chat, dan sal Gerhard vir my vra of ek weer vir die mense langsaan luister. Dan vra ek of ons ons eie gesprek kan pause, want Gerhard gaan nie glo wat hier langsaan gebeur nie. Dis soos om Egoli te kyk, in oopkyktyd, lekker. Wel, in Chatz Cellular Midstream is my super sonic gehoor regtig oorbodig, tot Gerhard, wat niks kan hoor nie, smile, want ons hoor elke woord van hierdie gesprek, en dit gaan so:


"I don't think my Whatsapp is switched on. I sent someone a message last night, and see here, there is just a tick. One, it is not two and it is not blue. So Whatsapp must be down, but my other messages have two ticks and they are blue. But this one message is not working, so it must be the phone. You must fix it."


Dan vat arme Alex die foon en ek sweer hy maak of hy iets doen terwyl hy vir die Oom verduidelik dat dit baie snaaks is dat van die boodskappe wel deur is, en van die mense het even reply, maar die een boodskap wat nie deur is nie, dit kan wees dat die mens aan die ander kant se foon af is, of sonder sein, of van lyn af.


So gaan dit vir lank aan. Oom hou vol Whatsapp of die foon is stukkend. Thabo en Thembi het hom ook al met presies die probleem gehelp. Mens kan sien hy dink nie Alex is heeltemaal up to the challenge nie.


Eventually stel Alex voor dat hulle die nommer moet bel, dit sal dalk help. Op speaker no less. Die foon lui (hard). `n Ouer vrou antwoord...Oom is verbaas...die Tannie se foon werk!


"Jy het nie my Whatsapp boodskap gekry nie? Het jy?" vra Oom.


"Onthou daar is nou `n tydsverskil" sê die Tannie.


Sy het lanklaas na haar foon gekyk. Ons kan nie aflei of die Tannie in die UK is wat nou twee ure agter ons is, en of die Tannie in `n vreemde verre land soos Amerika met belaglike tydsverskille is nie, maar so het Oom en Tannie `n hele gesprek, wat Alex met `n gepynigde uitdrukking op sy gesig dophou, daai ene waar hy nie weet of hy sy eie lessenaar moet verlaat om Oom privaatheid te gee, en of Oom tot sy sinne gaan kom en die foon van speaker gaan afhaal nie. So luister almal van ons na Oom en Tannie se praatjies oor die weer (dit is droog waar sy is, nat waar hy is), hoe dit met Natasha gaan (nee, ek wonder nou nog wie Natasha is) en wanneer hulle likely weer gaan chat nie.


Ek wonder nou nog of Oom die skoot hoog deur het, en Tannie, `n girl wat hy dalk in Retire, of by rolbal ontmoet het by haar kinders in Australië gaan kuier het, of is Tannie die Oom se vrou, en hy is net vol nonsens en hou nie van verandering, of vlieg en nou is hy in Midstream en sy in Sydney nie.


So twintig minute later is Oom en Tannie klaar gechat, Oom bedank Alex dat hy Whatsapp gefix het (Alex smile maar net), en ek en Gerhard sit steeds, want Gerhard se Alex spook nog met die nuwe foon en die apps. En ek hoop oor veertig jaar, as ek en Gerhard in Retire bly is Chatz nog daar, en sal die nuwe Alex, Thembi en Thabo ons ook mooi help as ons Whatsapp nie wil werk nie. Wel wintlik vir Gerhard, want ek is nogal clued up met tegnologie...


70 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page