Gister vertel ek en Gerhard vir die kinders van speel in ons dae. Kon nie help om te voel soos my Ouma wat ons altyd vertel het hoe hulle met dolosse gespeel het en kleilat gegooi het nie. Elke generasie het seker maar op `n manier dieselfde gesprek as die een vantevore ne?
Ek wil nou nie soos my Ouma klink en praat van die ‘kinders van vandag’ nie, maar genade. Starre kontras. My gunsteling tydsverdryf was om “feetjie-feetjie’ te speel. Die speletjie het min of meer behels dat jy in die groot bedding, reg voor die huis in Hospitaalweg 39 onder en in die bottlebrush speel. Jy tel sade, peule en veertjies op en so speel jy dan jy is `n feetjie. Luka wou weet of ons at least vlerke gehad het, vir haar gaan alles mos oor die outfit. Toe ek sê nee, niks vlerke nie toe kry `n `n les in crafting en draad en hoe ek eintlik vlerke moes maak. Wat sy nie weet nie is dat ek waarskynlik in groot moeilikheid sou wees as ek my Pa se bloudraad vir vlerke sou wou gebruik!
My volgende beste speletjie was “Wimbledon-Wimbledon”. Ek en my sussie het elke jaar ten tye van Wimbledon ure spandeer om ons bankies te bou waar ons sou sit om ons water te drink. Ons het handoeke uit die huis gedra en balle gesoek. Wit of witterige klere is opgediep al was dit te klein, te groot of selfs geel. Dan moes ons die hout tennisrakette uit hulle clamps uit haal en na ure van uitpak en regmaak en ooreenkom waar die lyne was het ons vir so 5 minute balle op die gras geslaan. Dit het gewoonlik so lank gevat om uit te pak en op te stel dat ons meestal teen 1pm op die baan uitgekom het en tennis in die hitte van die dag vir kinders wat graag ‘feetjie-feetjie’ speel is nie eintlik so lekker nie. Na 5 of 10 minute se tennis het ons dan maar weer begin oppak.
Ek het gehou van ‘skool-skool’, ‘Mevrou-Mevrou’ en ‘winkel-winkel’. My grootste wens was om `n truprojektor te besit. Ek het sommer die skottelgoedrak hiervoor gebruik en enige stuk plastiek wat ek kon kry. Ek het alles probeer, flitsligte en bloudraad, maar ek kon net nooit die truprojektor kry om te project nie. ‘Winkel-winkel’ was maar baie soos die tennis en teen die tyd wat ons die monopoly geld uitsorteer en verdeel het en besluit het wat ons verkoop en pryse gemaak het, het ons maar weer begin oppak. Ek cringe natuurlik so effens vir ‘Mevrou-Mevrou’ wat impliseer alle dogtertjies wil eendag `n Mevrou wees. Ek kies “Ms” op vorms indien julle wonder.
Liam lag en dink nie te veel het verander nie. Hy sê dogtertjies vernoem steeds al hulle speletjies op die manier, hy sê hulle speel “Barbie-Barbie”. Luka hou ook van "secret agent - secret agent".
Dan het ons natuurlik gelees. Van al die boeke was die Meisies van Maasdorp en Saartjie die boeke wat die grootste indruk gemaak het. Baie onoorspronklik en skaamteloos het ons `n bende gevorm met dieselfde naam as Saartjie se bende. So het die Muskiete gereeld teen die Spitfires moddergevegte gehou in die parkie in Hospitaalweg. Die enigste probleem was dat daar nie te veel water of goeie grond in die parkie was nie, so modder was maar in short supply. En so het my Ma vir ons modder by die huis gemaak en aangery parkie toe in haar kar. `n Effense unfair advantage, maar hey, ons was klein skraal meisies. Ons het ook van papier meelbomme gevou en so nou en dan `n lekker bol meel on top of `n spul modder na die arme Spitfires se kant toe gegooi.
Liam en Luka is jaloers. Volgens hulle sal hulle nooit iemand met modder kan gooi sonder om in serious moeilikheid te kom nie en die hartseer deel is, ek dink dit is waar. Ons probeer die Xbox en die tyd op telefone beperk, maar die dae van moddergooi in die parkie en suikerbone van huis tot huis verkoop op `n skateboard is lankal verby. Ons Oupa’s en Ouma’s het seker maar dieselfde gevoel oor kleilat gooi en die aankoms van winkelpoppe en remote control karre. Al wat ek weet is dat dit makliker was om iemand met `n handvol modder te gooi en daarna afgespuit te word met die tuinslang as wat dit is om te probeer beheer wat alles op die internet aan die gang is.
Comments