Toe ek klein was, was mense bo 35 oud. Baie oud. Op 35 het jy outomaties `n perm gekry. En jy was `n Tannie. Tannies het vreeslike perms gehad wat elke nou en dan geset moes word by die haarkapper. Hare is nie altyd noodwendig gekleur nie en die purple rinse was koning vir OU OU mense, dis nou die bo 45.
As jy ouer as 35 was, is jou klere by Miladys gekoop. Vreeslike pastel kleurige rokke met belde op snaakse plekke wat alle mense bo 35 dieselfe shape laat lyk het. So effens reghoekig. Sykouse en praktiese skoene (van die apteek of Green Cross variant) was aan die orde van die dag. Shorts was vir kinders, al was dit dan ook 35°C in Pretoria, al was jy op `n uitstappie by die Dieretuin, vakansie by die see, dit maak nie saak nie.
Ooms het meestal comb overs en stewige pense gehad, brandewyn is met coke in plaas van coke zero gedrink en Lion Lager was die bier van die dag. Mans het safari pakke gedra en `n kam in die lang kous om die comb over gekam te hou. Mans en kinders swem in die see, vrouens sit in hulle rokke op die strand en kyk dat niemand verdrink nie. Mans swem egter van Noag se dae af sonder skaamte oor die groote van die pens lekker in die see, swembad of selfs soms, afhangend van die brandewyn en coke in `n publieke fontein.
Fast forward en nou is ek 45. Ek probeer hard om nie `n tannie te wees nie. Dit het my lank gevat as `n ma om agter te kom as iemand skree "Hallo Tannie" praat hulle met my. My kinders is 14 en 11. Gerhard is 45 (so maand of wat jonger as ek). Ons dink nie ons is oud nie. As Woollies die jaar `n nice rockerige leather broek het, dan koop ek hom. Chelsea boots, ek het hulle. Lekker leer baadjie, verseker.
Gerhard se suit is blou, nie swart nie en sy jeans is Levi's, nie broeke wat mens by die koöperasie koop nie. My make up is M.A.C, die lekker shades soos Nude Model, nie Power to the Purple nie, dis te pers. My skoene is fasionable en meestal met hoë hakke, maar ek embrace ook die sneaker en rok trend. Ek weet van die ugly shoe beweging se comeback, maar vir my kry jy nie (weer) in Crocks nie. Dit was net die een keer en ek was woes swanger en op `n lang vlug terug van Europa af.
Ek weet wie Justin Bieber is en ek is nie `n fan nie. In ons huis luister Gerhard en Liam 80's rock, maar ek en Luka like maar `n lekker liedjie, so ons luister Dua Lipa en Mily Cirus wat baie mooi was in haar Hanna Montanna dae. As Pink erens nader as die US optree gaan ek soontoe vlieg en haar sien sing, life is short en sy is `n cool spunky rockerige chick.
Ek is computer literate en in ons huis die IT support. Ek kan routers opstel en printers install, so al het ek voor die internet grootgeword en sonder `n computer begin werk, kan ek myself (en indeed al die van Rooyens's) help met tegnologie. Ek like Pinterest, Facebook en Instagram, maar ek is nie groot op Twitter nie - te min woorde, Twitter is vir Accountants en Facebook vir skrywers.
So volgens my is ek nie oud nie. Ek kom van `n lang geskiedenis van langlewende mense af en ek dink ek gaan maklik 100 word, maar dan, net as ek vir myself in die spieël kyk en dink, nie te sleg vir `n middeljarige mens nie, dan kraak my knieg as ek die trappe klim. Of my kuit bly blerrie seer as ek hardloop. Die nuutste skeet is dat ek nie kan sien nie! Ek moet met `n bril bestuur. Ek het kontaklense vir as ek draf of dalk in die natuur gaan stap, net om dood seker te maak ek hardloop nie dalk in `n boom vas nie. Ons voer voëls in die tuin (soos middeljarige mense), en dan sê Gerhard kyk die kakelaars en dan sien ek hadedas of niks nie. Maar as ek die kontaklense in het, kan ek vêr sien, nie naby nie, en dan moet ek of my arm langer maak as wat hy is om my foon se skerm te kan lees, of ek moet `n paar Readers van Clicks dra. En dan sit ek die Readers op my kop en soek die Readers en maak in elk geval my arms lank. Dis `n gemors. Daar is nou al `n bril in elke kamer.
Maar ek is nie alleen nie. Liam vra gister vir Gerhard om saam hom balle in die park te gaan skop. Gerhard loop trap op om skoene te kom haal, gly, verloor sy balans en keer met sy hand. Sy hand is blou en ons dink sy skouer is uitgehaak...van trappe klim. Mens kan die skewe skouer sien, hy wou hê ons moet die skouer sommer self terug pop! So is hy vanoggend GP toe, maar sy is nie ons gewone mens nie, redelik oud en sy sê hy moet ER toe. So nou is hy ge-triage, hy gaan vir `n Xray om seker te maak niks is gebreek nie. Ek sit hier en tik, met my Readers op my kop. En ek wonder hoe maak mens jou skouer seer as jy skoene gaan haal? As dit Crocs was kan ek dit seker verstaan, maar dit was gemaklike en effens fashionable Sketchers!
Nou wonder ek, gaan Discovery steeds vir ons 300 punte gee vir as ons rolbal begin speel? Dalk kraak mens dan minder.
Comments