top of page
Search

Goed wat ek nie geweet het ek soek nie...

  • nikivanwyk
  • 5 days ago
  • 11 min read


Eerstens wil ek begin deur te verduidelik ons is nie campers nie, ons is overlanders. Ek het laat in my lewe besef die luxury vakansie is nie noodwendig oorsee, saam baie mense, met Michelin star chefs of 'n cocktail menu so lank soos my arm nie, maar dat mens eers regtig vrede vind daar waar niks wild groei en die selfoonseine dodgy is. Waar mens borders cross en fooie met vuil en vose US Dollars betaal.


Ek en Gerhard was pas vir `n week in Zimbabwe. Nee, ek het ook nie geweet normale (rige) mense hou deesdae in Zimbabwe vakansie nie. Gerhard maak my nou al `n paar jaar sag, dis van die Landcruiser so paar jaar terug sy verskyning hier by Nommer 14 Ethel straat gemaak het. Landcruisers wil ry, en nie noodwendig Mall of Africa toe nie. Cruisers soek sand en stof en klippe, river crossings en swaarkry!


Die van Rooyens het in `n Mobi lodge begin en is nou al in `n Bushlapa Baobab - dalk effens over kill met die twee queen sized beddens. Na `n week vroëer die jaar in Wildtuin akkomodasie weet ek een honderd persent ek sal eerder kamp. Wat ek nie besef het nie, is dat ek eerder in die Gonarezhou Nationale Park, Zimbabwe sal kamp, sonder krag, lopende water, heinings, mense of `n spoeltoilet as om weer in Sanparks huisies of heaven help us, tente te bly!


21 Augustus:

Ons het Vrydag vroeg in Midstream weggetrek, al die pad Beitbridge toe. Op pad moes ons wel in Mussina stop vir prinsesserige goed soos sparkling water en `n hair straightener (sover ek kan agterkom al wat ek NIE ingepak het nie). Die Suid-Afrikaanse kant van die grens is natuurlik vuil, sonder veel vriendelikheid. Ons het gesien hoe een vrou letterlik haar stoel van die een kant van die kantoor na die ander kant toe stoot. En die stoel weer anderkant toe stoot. En weer. Nog 'n keer. Toe hou ek op kyk want ek kan nie! Ons val vir `n slenter en na R100 en USD10 laat `n kalant ons by sy sussie gaan staan, sy sussie is effens voor in die ry. Na meer as `n uur is ons na die Zimbabwe kant toe. Dis `n splinternuwe gebou vol vriendelike mense, tegnologie, werkende toilette, `n restaurant en `n duty free winkel. Chalk and cheese. Cleo van Zim tourism het ons deur die grens help kom, vir ons `n kaart van Zimbabwe gegee en ons vol goeie wense op ons pad gestuur.


Die polisie is vriendelik en almal wil weet waarheen ons op pad is. As mens sê Gonarezhou, smile die locals. Een sê vir ons "you people like Gonarezhou". Met 'you people' bedoel sy natuurlik mense in Cruisers met vellies en Bushlapas.


Ons het BRYCA River Lodges toe gery. Baie decent oornag verblyf. Vir USD10 kan jy aandete kry, en nog USD10 vir breakfast. Jy kan nie kies wat jy kry nie, jy kry wat jy kry en dit was lekker! Varktjops, chips en slaai vir aandete, bacon, eiers, baked beans ens vir breakfast. Lovemore was ons barman en hy was baie bekommerd dat ons gaan koud kry met aandete op die stoep. Lovemore dra sy mus, en ons, plakkies en shorts. Ek het wel Gin met club soda gekry, maar all in all `n great stop. Die trokke op die pad langs die oord raas effens, en die koffie is instant, maar ons het mos `n plunger, dark roast en Amarula in ons Bushlapa so all good. Daar is Wifi, so ons Starlink bly ongebruik.


22 & 23 Augustus:

Ons vat na breakfast weer die pad. Die pad is heel goed, daar is `n stuk van die pad waar hulle bou so dis net grond, maar die paaie het amper minder potholes as in Suid-Afrika. Ons word letterlik sewe keer afgetrek in roadblocks, maar die polisie is skynbaar onder strict instructions om toeriste uit te los. Meestal wil die polisie net `n geselsie aanknoop en vra of alles in orde is. Ons kom by die Park se ingang aan en blaas natuurlik al ons bande af met die Indeflate, `n magic gadget wat twee wiele op `n slag afblaas (of op pomp). Die grondpad is nie te sleg nie en kort voor lank is ons by Chipinda Pools. Ons koop hout en check in. Die vriendelike mense vertel vir ons as die Bushlapa nie te swaar is nie, kan ons die pad na Directors' Camp (ons volgende stop) toe aandurf via Fishan's Causeway. Anders is daar `n ompad.


Ons staan by Kamp 6. Daar is grasdak-hutte en ons slaan ons bushlapa skewerig op na `n moerse gereverse om die platste deel van die kamp te benut. Daar is `n skoon ablusieblok met warm water en die staanplek het `n kraan. Ons kyk uit op `n rivier vol hippos en die voëls sing beautifully. Daar is stof orals.


Ons moet dadelik die Starlink aanskakel om die Springbokke vs All Blacks op Ellispark op my iPad te kyk. Die Springbokke verloor, maar ons hoor leeus brul en ons is sad, not sad. Ons kan die kinders bel, en ons kan Wordle doen en nuus lees. Ek is bang ek kry dementia so ek moet elke dag Wordle. Ons slaap soos babas, sonder heinings of slotte, met leeus en stof.


Ons ry Fishans toe en besluit dalk moet ons maar eerder die ompad vat, daai sand lyk dikkerig.


24, 25, 26 Augustus:


Ek haal my splinternuwe hosepipe uit sy sak en ons maak ons Bushlapa propvol water. Directors' is `n exclusive site - dit beteken daar is letterlik niks behalwe `n longdrop nie. Mens moet genoeg water vat om te drink, te stort en skottelgoed te was. Ons vat die lang pad, en dis `n BAIE lang pad. Ons ry drie ure aan `n kort afstand, maar die view by Directors maak dit die moeite werd. Die kamp is op die oewer van die Runde rivier en het stunning views van die Chilojo Cliffs. Die kamp is wel onder `n Jakkalsbessie en ek dink nie Sekai gaan even al die taai bessies van ons vuil vellies af kry nie. `n Jakkalsbessie is `n bliksem.


Die boom is natuurlik soos `n candy store vir olifante en apies en so sit ek en Gerhard meeste middae van so 5pm tot 6pm in die Cruiser of die Bushlapa en wag dat die moerse olifant klaar eet. Hy kom skuur selfs een aand veby ons. Mens kan hoor hoe sy maag grom.


Die wind POMP! Ons waai letterlik weg, daar is sand en stof orals! Een dag ry ons Chinguli toe en gaan tap een van daai solar shower sakke vol water. Ons hang die sak by ons longdrop en stort in heerlike warm water. Dan smeer mens sonroom of jy spuit peaceful sleep en dan sit die stof weer aan jou vas.


Ek is so suinig met ons warm water, ek was die skottelgoed silwerskoon in baie min water. Ek gebruik wel water om my eie persoonlike toilet uit te spoel, maar ons is so ekonomies met water ons het gans te veel. Een van die hoogtepunte van kamp is natuurlik om die aand voor jy gaan slaap, `n fles water te kook (Oasis uit Midstream in `n 40l kan op die dak). Jy gooi daai ketel in `n Stanley fles. 5:45am is opstaan tyd, moenie vra hoekom nie, dit gebeur net, dan gooi jy eenvoudig daardie kookwater in `n plunger en voila! Dan kom daar nie melk in die koffie nie, maar ruim skeute Amarula. Dit is hemels. Daar is nie nog koffie soos díe koffie met die view van die rivier en die cliffs nie. Ek wil juis vir Amarula skryf. Amarula in een liter melkbokse vir overlanders sal `n hit wees!


Ons gaan ry Fishan. Daar is baie sand, maar ons het mos `n V8. Ons sukkel nie eers `n bietjie nie. Na `n besondere lang stowwerige dag besluit Gerhard ons gaan in Fishan swem. Ons moet die stof afspoel. Ons is Fishan toe, daar is nie `n siel nie. Swemklere aan en daar dryf ons vlugtig in die rivier. Dit was die coolste swem wat ek in `n baie lang tyd gehad het.


Ons ry tot bo op die Cliffs, haal ons stoele uit en drink `n drink. Dis mooi, maar hoog! Terug af lees ons die Tracks 4 Africa kaart nie te mooi nie en ons dog ons sien `n Causeway, maar dis `n river crossing en na ons die rivier op en af en van kant tot kant bekyk het besluit ons om maar eerder weer die ompad Directors toe te vat. As mens alleen travel en jy raak stuck in die rivier gaan jy lank gate grawe en ek is nie noodwendig so lus vir die graaf nie. Ons het `n winch, maar mens kort iets om die winch aan vas te maak...riviere het meestal nie bome nie.


Ons gaan loer hoe lyk dit by Chinguli...dis nie so mooi soos Chipinda of Directors nie, die mense kamp nogal op mekaar en ons besluit om ons twee opkomende aande by Chinguli te ruil vir die een beskikbare aand by Chipinda. Ek wil wel sê, Chinguli se badkamers is so mooi ek het trane in my oë gehad toe ons daar weg ry, Directors toe, waar daar nie eers `n kraan is nie. Chipinda is op die rivier, maar voel effens soos in die dorp bly.


27 Augustus:

Ons vat Fishan aan en daai Cruiser sleep daai karavaan soos `n champion deur daai rivier. Ons nuwe site is nommer 3. Wow wow wow - die hippos is nou selfs nader. Ons sien hippos, waterbokke, olifante, alles van die stoep af. Lopende water, `n vuurwarm stort, min wind, `n spoeltoilet. Dis snaaks hoe mens na `n bietjie rough going die simpel goed weer waardeer. Ons maak roosterkoek, van scratch af. Met Lurpak botter, in die bos. Ons roosterkoek is so lekker ek eet twee, voor ek even my skaapchop op my bord het. Soos altyd over cater die van Rooyens. Ek het vars slaai vir nog `n week, na `n week in die middel van nerens. Ons het water vir dae, die Amarula is nog genoeg, ons kan die hele Chipinda voer en ons sal oor hê. Gerhard se Toits slaghuis vleis is nog baie. Ons kyk voëls soos proper ou mense. Giant Kingfishers, Bee-eaters, Papegaai Duiwe. Daardie voëlboek en verkyker van ons werk oortyd.


28 Augustus:

Is ons idiots? Gaan ons wragties weer die grens op `n Vrydag aanpak? Ons slaan daai Bushlapa nou al op en af in 15 minute. Ons pak op en besluit om die grens oor te steek, en dan soos proper ou mense by Thsipise in te check. Ons check uit by Chipinda pools en op die grondpad stop `n ranger ons...Hy vra `n lift hek toe. Die man het `n gun, maar kyk, jy gaan nou nie noodwendig `n olifant met daai ding stop nie. Die olifante van Gonarezhou is nogal bedonderd. Hulle trompetter sommer as jy net verby ry. Hy vertel ons daar is baie leeus, en renosters. Hy is nie eers bietjie bang nie. Ons laai die man by die teerpad af, en pomp weer ons bande.


Die teerpad is uneventful en ons is weer deur agt roadbloks sonder insident. Ons is letterlik die keer in 30 minute deur albei kante van die grens. Ons kom in Mussina aan en stop in `n stil straat om ons middagete te eet. Ons eet sommer slaai en leftover Toits Boerewors. Hier kom `n oom om te hoor of alles in orde is. Stel homself voor en sê sy generasie stop nog langs die pad om mense te help. Ons maak geselsies oor die Park. Oom sê die Tannie is ongelukkig nou op `n loopraam na al die rugoperasies, so kamp is hulle nie meer beskore nie.


Ons kom by Forever Resorts aan, check in, slaan die karavaan op. In my lewe het ek nie tent en karavaan konstruksie soos die gesien nie. Dis die langstaan kampers wat winter wil mis en dan hier kom kamp. Daar is nette en heinings en satelietskottels en grys hare net waar jy kyk. Mense met pool noodles wat in die warm water swembad dryf en dobber. En en Gerhard gaan was ons beddegoed, na `n week van stof is daai laundry `n geskenk! Ons huishouding besit net wit handoeke en wit en skakerings van beige linne...nie my beste oomblik nie.


Ons kan nie in die rumatiek bad kom nie. Die water is 40˚C! Gerhard kry nie sy voet in die water nie. Ek maak dit vlugtig in, en dadelik weer uit!


Ons besef weereens, ons is overlanders, nie campers nie en na een nag op Tshipise pak ons vir oulaas op en gaan huis toe om te kyk dat die kinders darem ok is. Sekai is ook terug van Zimbabwe af en is baie in haar noppies dat ons fans van haar land is. Ons sal verseker weer Zimbabwe toe. Daar is diere, maar nie soos in die Kruger nie. Dis die expansive landscapes, die views, die stilte, die skoon lug en die gevoel dat jy die enigste mens in die hele park is wat die so special plek maak!


Nou ja, hier is my lys van goed wat ek nie geweet het ek wil hê nie:


  1. My eie persoonlike mobile spoeltoilet: Ek het die outjie op Takealot aangeskaf. Die probleem met kamp is dat daar leeus, olifante, spinnekoppe en slange is. Dis alles fine as die son skyn. Ek het by Directors daai longdrop besoek en ek was nie eers effens bang nie. Die issue is as die son sak. Dan drink ek gin (en Tonic) met my baie ys wat ek in die middel van nerens maak nie. En baie gin beteken mens staan in die nag op. Voila! Niki se toilet. Ek LOVE hom. Ek maak daai toilet elke oggend met `n smile skoon. Ek was hom met liefde en ek pak hom weg vir vannaand.

  2. Gerhard se krag generation capabilities: Gerhard se Cruiser is nogal `n nice kar. Daar is `n fancy krag boks in. Daar is `n solar panel en what what ac / dc goed in. Ek weet nie hoe dit werk nie, maar wat ek wel weet is dat ons ys kan maak in die bos. Ek kan my hare was en airdry, maar daarna kan ek `n GHD in daai boks agter druk en my hare reguit maak dat ek dit kan kam en dit nie koek nie.

  3. My Stanley fles: Die original groene. Een liter kook water vir oggend koffie met Amarula. Nie `n luxury nie, `n noodsaaklikheid!

  4. My koplamp. Ek het my eie fancy koplamp. Hy is helder! Ek kan baie ver sien as ek wil. Soms wil mens nie te ver sien nie. Ek kan die hiëna in die oog flits as hy kom kyk of daar `n vleisie oor is. Ek kan die lig rooi maak as ek skottelgoed moet was om die goggas weg te hou.

  5. My eie persoonlike leer werkshandskoene: Mens is maar altyd bang jy breek `n nael op so vakansie. Gerhard het vir my my eie goudgeel leer werkshandskoene gekoop. As ons die kamp op of af slaan, dra ek my geel handskoene. Ek druk penne in die tent, haal stabiliser legs uit, dra vragte hout, grawe gate, man enige iets. Nogal cute.

  6. Vellies: Sjoe, dis nou regtig nie die mooiste skoene in die wereld nie, maar dis prakties. Dis gemaklik, hou die stof uit jou kouse uit, dorings kan nie deur die sole nie. Lekker man.

  7. Snowva Ultimate Ice trays: Die is sulke blou roomysbakke met dividers in. Maak beautiful ys vir die gin. Sonder gin, ys, koffie en Amarula sou ek dalk nie kon kamp nie.

  8. `n Starlink: Ons het ene gehuur. Ek wens Elon en Cyril wil praat en tot `n vergelyk kom. Dis die most amazing tegnologie. Dis so `n wit square. Met `n lang draad. Jy plug kom in Gerhard se powerstation in en voila! Internet wat kan stream, en video call. Liam skryf prelims, ons moes darem net check die man leer en kyk na Luka.

  9. `n Swart Plastieksak stort - `n Solar Shower. In die middel van nerens maak jy kokende warm water en daai 20 liter water is genoeg vir my om te stort, my hare te was, en dan is daar nog water vir Gerhard ook oor.

  10. Tracks for Africa: ek is die navigator, ek navigate daai ding in my slaap. Dis moeilik, en mens skat afstand in duime. Een van my duime is of 100 meter, 300 meter, 1 kilometer of 5 kilometer. So kan ek predict waar Gerhard moet draai, hoe lank tot ons kan stop vir lunch, of middag gin en Zambesi Lager.


Die komende naweek is die 4 x 4 Expo by Zwartkops Raceway. Ek kan nie wag nie. Ek wonder of ek my vellies en my bosbroek moet dra dat die mense kan sien ek is `n serious koper. Gerhard beplan klaar aan die volgende trip. Ek bêre vandag die paspoorte en die dollars. Ek gaan saam. Die keer dalk in `n kleiner Bushlapa. `n Kewer is net reg vir twee van Rooyens en hulle toilet.


Groete

Die happy overlander (ek is nie `n camper nie)

 
 
 

Recent Posts

See All
Forever young

Liewe Liam Vandag is jy agtien! Die laaste 18 jaar was lank en kort. Toe jy klein was, het die jare lank gevoel, maar vandat jy in die hoërskool is gaan die tyd heeltemaal te vinnig verby. Wat my b

 
 
 
At least is die 690 hoenders nie verniet dood nie

Ek skryf skynbaar graag lang briewe…ons leer weer dat "poets" die ware kunstenaars is, hulle het die gawe om diep denke en duisende gedagtes in`n paar woorde neer te sit. Die gawe is my nie beskore n

 
 
 

Comments


Subscribe Form

Thanks for submitting!

©2021 by Niki van Wyk. Proudly created with Wix.com

bottom of page