Ek was in die jare negentig `n tandemaker se droom! My tande was te skeef, te veel, te orals, en so het ek by ons dorp se geliefde tandarts, Rassie (Erasmus) opgedaag. Ons en Rassie, het naby mekaar in Clubville gebly. So het my en Rassie se journey van so vyf jaar begin.
Daar was eers plaatjies: Bo en onder terwyl die arme man my tande in my kakebeen moes probeer skuif, ek het so spits mond gehad. My profiel lyk nou baie anders as toe ons begin het. Ek het die sleutel van die plaatjies gehad en getrou elke week die skroewe een spasie aangedraai, trust, `n belangrike element in die evolusie van my tande.
Ek en Rassie was twee keer teater toe om van my spaar tande uit te haal. Ek was elke keer baie ontstoke dat die man wat in my mond moet kyk dalk my onderkant kon aanskou as daardie onvleieinde teaterjas se agterpante so oopwaai, maar nou ja, wat kan mens nou doen.
Fast forward `n rukkie en ek kry die actual treinspore. Dit was meer complicated en Rassie se vrou, wat ook die assistent, die ontvangsdame en waarskynlik die boekhouer ook was, maak my afsprake laat in die dag, dan laai my ma my af en Rassie vat my sommer huis toe. Hoe is daai vir platteland diens?
So het ek in totaal vir die grootste deel van my tyd op hoërskool, draadjies gehad en `n paar ure per maand saam Rassie in sy spreekkamer, of in sy kar spandeer. Ek weet nie of my ouers niere by Rassie moes inruil om vir die petalje te betaal nie. Ek weet net Rassie en sy vrou en miskien soms `n assistent was die hele praktyk.
Nou het ek twee kinders, Liam se tande is pragtig, reguit, sterk. Ons tandarts sê al lank, Luka gaan ortodontis toe moet gaan, en so toe sy die jaar 12 is breek die jaar aan. Let wel, dis `n ortodontis, nie die tandarts nie.
Mens bel, lank voor die tyd, en dan na so drie maande kry jy uiteindelik `n gap. Dis nie `n na-ure gap nie, en die ortodontis vat jou ook nie huis toe na die tyd nie. Dis in die middel van die oggend, soveel so dat Luka wel moet skool toe, maar net te vroeg vir my om die tog Sandton toe, en terug aan te pak. Daar word gushy groen goop in die mond gedruk en xtrale geneem. Daar is vreeslik baie mense wat daar werk. Selfs `n kantoor vol accountants of sort.
Daar word `n tweede afspraak gemaak, net vir die Ma, waar die behandeling bespreek word en waar daar aangedui word op `n kontrak of mens een nier, of `n nier en `n kornea gaan indien. Ek is die dag laat, dit reën so hard in Gauteng dat ek in my gumboots by die afspraak opdaag, laat, frazzled, soveel so dat ek my handsak in die ortodontis se spreekkamer vergeet. Daar is 'n los tand. Moet asseblief nie laat Luka die tand wissel voor die rekkies inkom nie. Die tand is soos 'n placeholder. Ok! Luka, onder geen omstandighede trek jy die tand nie, hoor jy my?
Daar word `n derde afspraak gemaak om spacers en rekkies in die mond te kry en by die afspraak ontdek hulle ook `n gat in Luka se tand. Ek is histeries, want as ons nie `n noodafspraak kan kry voor die actual 'installasie' afspraak nie, dan skuif alles aan en my dagboek is reeds een moerse gemors teen die tyd. My sekretaresse wil nie meer meetings skuif nie, sy is kwaai. My tandarts kan die volgende dag help en ek en Gerhard speel `n goeie rondte 'rock paper scissors' om te bepaal wie op die onbeplande tandarts-dag minder belangrike vergaderings het. Ek verloor. Gerhard bied aan om sy tandarts te bel en te kyk of ons nie daar regkom nie, ek is mos nou juis nie op kantoor nie....Gerhard se tandarts het sy praktyk verkoop en vlieg Sondag Nederland toe. Ok, daai was onverwags.
Ek en Luka kom by die tandarts, nie die ortodontis nie. Nee sê sy, dis nie `n gat nie, dis `n groef. Stop hom maar asseblief vra ek, ek kan nie weer uit meetings uit loop oor tande nie. Ja, sy stem, die groef gaan nou vir twee jaar onder staal wees, laat ons hom maar eerder seël. Dankie tog. Ek dink ons medies was lank gelede uitgeput, indien nie was die dalk die afspraak wat die laaste fondse trek.
Die volgende dag werk ek weer van die huis af. Ek dink my span dink ek is lui en nie lus vir werk nie. Die is die groot (vydfe!?) afspraak, negentig minute, ek gaan haal Luka weer by die skool. Die kantoor tannie begin my snaaks aankyk, hoeveel keer kan een ma een kind vroeg by die skool kom haal? Ek is die keer weg met my laptop en ek sit maar en werk terwyl Luka draadjies kry. Luka kom uit, nee, hulle wil `n plaatjie ook insit, dieselfde tyd as die res van die goed, so kan ons asseblief weer terugkom. Hulle het weer afdrukke geneem. Miskien die volgende week, Dinsdag? Dis `n wilde week by die werk, en na ons iets soos 'go fish' speel, nee ek kan nie Dinsdag nie, wat van Woensdag, nee Woensdag werk nie, wat van Donderdag, settle ons op `n Vrydag. O ja, daar is 'n los tand. As hy nie voor die volgende afspraak gewissel is nie, sal hulle vir my 'n briefie gee vir 'n afspraak by die tandarts vir 'n ekstraksie. Hell no Luka! As jy die tand nie trek nie, trek ek hom met 'n tang. Hou op huil...my pa het my tande so getrek. Wikkel solank...wikkel Luka!
Voor ons mag loop moet ek en Luka `n video kyk oor hoe om te eet, wat om te eet, wat om nie te eet nie. Hoe om die tande skoon te maak, ek moet bieg, ek was al besig om in my kop deur my lang to do lys te werk aangesien ek nou al amper `n week se werk gemis het. Ons koop toe ons amper klaar is `n sak vol goed om haar tande skoon te hou.
Ek gaan haal Luka weer, dis nou die sesde keer in 3 of 4 weke. My een oog spring en ek het te veel unread mails. Ons gaan vir `n langer afspraak. Hulle plak die plaatjie in haar mond vas met sement, sien, Rassie en die sleutel, trust, dit vat dan duidelik langer vir die tande om te skuif as die plaatjies kan in en uit. VERLIGTING, ons hoef nou eers oor ses weke weer te kom. Ek het my maandelikse paaiement betaal, ek het nie `n kar paaiement nie, maar ek het `n tande paaiement. Ek wonder of mens soos `n kar dalk die tande moet verseker? Imagine die kind speel hokkie of val van haar fiets af en sy verloor een van die tande?
Die volgende dag kry ek `n whatsapp van Luka af, op Liam se foon...Mamma ek het by die skool iets geëet, en toe breek my draadie af...so raai wat, dan bel mens en jy maak `n noodafspraak en jou kar ry die sewende keer in minder as `n maand na dieselfde plek toe.
Ek mis vir Rassie en die eenvoudige dae, at least is Luka happy, want in vandag se dae anders as in die negentigs is die kleur van die rekkies bo-oor jou draadjies alles. Mens kan nie geel kies nie, dit lyk vuil. Mens kan nie groen kies nie, dit lyk soos pietersielie. Mens kan nie wit vat nie, dan lyk jou eie tande geel. So ja, as jy my in die volgende twee jaar sien, spare `n thought. Ek is nie ongeskik nie, ek is op pad ortodontis toe en ek is waarskynlik laat, die tannie in die kantoor dink ek en my kind bank skool.
Luka gaan beautiful tande hê, maar met die hoeveelheid wiskunde wat sy gaan mis in twee jaar, gaan ek die Master Maths moet verdubbel anders gaan sy en haar mooi tande in colgate advertensies moet wees om eendag `n bestaan te maak, en ek wil eintlik hê sy moet `n ortodontis word en vir my sorg.
Comentários