Ek het lank gelede, in 1995 om presies te wees `n opstel geskryf oor my pa. Die opstel was `n variasie van iets wat ek al vantevore in die klas ingedien het en my Juffrou, Juffrou Toppie Stofberg het my skryfstyl en my storie herken en so is dit dat ek `n afskrif van my matriek-eindeksamen opstel van 1995 in in my besit het.
Dit was in die jare voor ek geweet het wat ek eendag wil doen. Ek wonder of enigeiemand regtig ooit weet wat hulle wil doen? Ek wou skryf. `n Joernalis wees soos Max du Preez. Hard core, regte stories. Ek wou my Doc Martens dra, my hare net so nou en dan kam, as jy `n hard core joernalis in Suid-Afrika wou wees kon mens nie mooi fyntjies wees nie. Anyhow, we all know how that turned out en hier sit ek met `n corporate job en ek skryf kinderstories en vertellinge oor my lockdown life.
As ek nou die opstel lees dan is dit vol clichès en nou nie noodwendig iets wat ek (hopelik) vandag sal skryf nie, maar die opstel was oor my pa en my boetie.
As ek die opstel vandag moes oorskryf sou ek skryf oor my pa wat hou van tinker. Ek was al `n grootmens met kinders voor ek agtergekom het dat Tinkerbell `n 'tinker fairy' is. Sy 'tinker'. Ek dink `n Afrikaanse woord kan ploeter of karring wees, maar dit dui op sukkel en my pa sukkel nie, ten minste nie aspris nie! Dalk timmer hy, maar dit klink soos houtwerk wat hy baie goed kan doen, maar dis nie beskrywend genoeg nie. My pa karring, timmer, tokkel en tinker. Hy kan nie stilsit nie en kort projekte, ploeter-projekte for lack of a better word. Hoekom sal mens iemand betaal om iets te doen wat jy self kan doen?
Dis alles goed en wel as dit kom by goed soos trekkers regmaak, maar in my jeug staan `n paar goed uit waar ek nie mal was oor die ploeter, of tinkering nie.
My Barbie se hand het afgebreek. Dit was lank terug, Barbie poppe was seker duur, want my pa het doodeenvoudig my Barbie se hand gaan terug soldeer. Sy het gelyk soos `n pop wat botched plastic surgery gehad het. Dit was nogal sad om te aanshou. My opsies was redelik beperk. Ek kon met Botched Barbie speel of ek kon Albert se He-Man action hero soek. So ek het maar met die pop aanhou speel en nie lank daarna nie seker maar besef ek is eintlik te groot vir popspeel.
My pa was altyd aan die bou. Dit was vir my `n vreemde konsep dat ander mense bouers betaal om te bou. My pa bou self. Troffels, kruiwaens, 'levels' en 'dagga' was altyd volop in die huis. Daar was meestal `n hoop bou-sand voor ons huis. Mens mag natuurlik nie op die sand speel nie, want jy kom in die moeilikheid as jy die sand afry tot onder. Dan moet jy die sand sif met so helse sif en dit weer ophoop. Vra ons, ons moes gereeld.
So voel dit ook of ons alewig na nuwe huise getrek het sonder swembaddens. En dan kla ons, ons wil swem en dan begin my pa gat grawe. Nie met `n masjien of help nie. Nee wat hy grawe maande lank aan die swembad. Ons help. Die tuinman help, maar hy kom werk een maal `n week en hy kan net gat grawe na sy tuinwerk klaar is.
Dit voel vir my of ons pal eelte op ons hande gehad het toe ons klein was en of ek alewig besig was om te help gat grawe. Of dit maande was en presies hoeveel gate daar gegrawe is kan ek nou nie presies onthou nie, maar as jy klein is voel alles of dit maande aangaan. Dit was eintlik lekker en vol avontuur.
Die kruiwa se wiel het altyd getjierie-tjierie en mens moes nogal baie kruiwaens grond uitry voor die gat groot genoeg was om te begin met die re-enforcement. Ons het ou bou-rommel, ek onthou `n vodde strandsambreel, drade en watookal gebruik. Die pleister en marbelite was laaste. Dan moet die swembad staan en droogbak en daarna vat dit vrek lank om vol te tap met die tuinslang. En ek sweer nes ons nou lekker swem, `n paar jaar na ons begin gat grou, dan trek ons en ons begin die proses weer oor.
In die laaste huis waar ons swembad gebou het was ook `n studeerkamer wat of deel van die huis was, of nie. Dit voel of my pa die muur gebou het net om die muur daarna weer met `n angle grinder af te breek. Bou, breek, bou, breek. Dit was nogal `n stowwerige storie.
Ek was ook so gelukkig om in matriek `n oranje stok-ou original Mini stasiewa te kry. Ek en my pa het in die jaar 1995 baie kwaliteit tyd in die garage spandeer, want die Mini se brieke was gevaarlik en moes gebloei word.
My pa tinker vandag nog. Bel en jy hoor van die nuutste projek. Bou, verf, breek, solar panels in die donker dae waar Eskom nie vir ons krag kan voorsien nie. Hy is mal daaroor. My kinders kry stern warnings voor oupa kom kuier. Moenie vir hom sê die lig in die TV kamer is al maande lank stukkend nie. Hy gaan die hele ding afaal en strip en tinker tot die ding weer werk. Dan gaan ons nie met hom kan kuier nie. Seblief kinders, hou net die deur toe!
Ek dink egter ek self tinker dalk ook. Ons is skynbaar `n generasie van tinker fairies. En voor julle dink ek is derogatory, daar is manlike tinker fairies ook, kyk die movies, Fairy Gary is nogal manly!
Na al die maande van lockdown wil mens naderhand mal word. Ons kan nie tans Gauteng verlaat nie, so almal tinker. Gerhard fix sprinklers, Liam help. Hulle het al `n kompos bin van hout gemaak, Gerhard het `n skroef in my kar se enjin gesit. Ek bak, doen naaldwerk, ek het al gepaint. Ek het my eie tools en kan meeste goed met `n cable tie fix. In my pa se jonger dae was dit bloudraad, maar ons cable tie sommer alles.
Luka het `n sterk skeut tinker in haar. Sy innovate en maak goed, sy kyk video's en dan wil sy die goed hier by die huis doen. Graad 4 is haar beste jaar, want in Graad 4 vat jy jou eie hot glue gun skool toe. Dis nou na ek al jare vir die kind sê sy mag nie `n glue gun operate nie. Hulle brand mekaar glo so nou en dan, maar sy sê dis nie te serious nie. Sy het ook glitter skool toe gevat, so al haar praktiese tegnologie projekte bling nogal woes.
So, vandag se weergawe van my 1995 opstel sal gaan oor my pa, die tinker fairy en hoe hy sterk generasies van tinker fairies grootmaak. En dalk is dit nie die kinders wat hom jonk hou nie, maar sy getinker!
Comments