top of page
Search
nikivanwyk

Gerhard verlang na die Eighties

Gerhard vertel die laaste ruk gereeld vir ons hy mis die eighties. Die lewe was eenvoudiger, die musiek was goed en gemaak sonder 'auto tune' soos Liam dit noem. Rock bands het lang ongekamde hare gehad en op whiskey en who knows what else gelewe. Hulle het graag hulle hemde uitgetrek al het hulle nie `n spier gehad om te wys nie. Die lirieke het sin gemaak en mens kon amper met elke 80's song relate. Die fade out was natuurlik ook groot.


Daar was nie selfone nie, en as ons met vakansie gegaan het, het my pa sy company car, soos per die maatskappy-beleid gaan volmaak vir die lang rit see toe. Mens het so boek met pienk slips in die cubby-hole gehou waarmee die karre vol petrol gemaak is. Daar was drie van ons op die agterseat en my ma het `n spul komberse op die vloer gedruk en vir ons `n dubbelbed gebou. So slaap ons drie dan sonder `n safety belt in sig al die pad see toe.


Daar was nie out of office boodskappe of telefone wat moes saam op vakansie nie. Iemand het vir jou ingestaan en as jy teruggekeer het na jou vakansie, wel dan het daar nie 7 000 unread emails vir jou gewag nie. Ek kan nie `n vakansie van my jeug onthou waar iemand ons ooit dringend moes kontak nie.


Daar was net twee genders en mens het soos een of die ander aangetrek. As mens egter na foto's van ons as kinders kyk was klere dalk meer unisex as wat ons wou onthou. Mens moes meestal nie wonder wat iemand se pronouns is as jy hulle ontmoet nie. Jy kon met die hand groet en aanbeweeg.


Ons kon met min geld vreeslik baie doen. Mens kon gaan fliek en sweets koop en kleingeld oorhê van R10 of dalk minder. As jy wou weet wat aangaan moes jy in die oggend die Beeld lees. Die Beeld het in papiervorm gekom. `n Seun van jou straat, wat jy tien teen een geken het, het op `n BMX gery en die koerant kom aflaai voor jou deur. As dit gereën het, dan het die ou en sy ma die koerant in `n ou checkers sak gesit dat die nuus droog bly. Na jy die Beeld klaar gelees het, het jy geweet wat aangaan. Daar was nie Twitter of Facebook nie en die sensasie was minder. Daar was wel `n vrou met `n slang, ek dink haar naam was Glenda of so iets en in Middelburg was daar `n desperate haarkapper tannie wat topless haarsnye gedoen het. Maar dit was so erg soos wat ek dit kan onthou.


Gerhard sê ons kinders is deel van die instant generation. Hulle wil wag vir niks nie. Neem `n foto en kyk hoe lyk hy. Niks film, neem tot die film klaar is en gaan gee dan by die apteek in om te ontwikkel nie. Niks bel jou vriende op `n landlyn en as die tannie antwoord, moet jy eers geselsies maak en dan vra om met die kind te praat nie. Jy stuur sommer `n Whatsapp en kyk hoe iemand aan die ander kant hom lees! Om my kinders `n foon te sien operate laat my eitlik skaam kry, ek hoop maar hulle leer bel en praat voor hulle die huis verlaat. Hulle hoef nooit `n hele tape te koop om die een mooi liedjie te kry nie, selfs erger, hulle hoef nie van die radio af te tape op die Top 40 nie. Alex Jay was die ergste met sy non-stop gepraat oor die intro van die liedjie nie. Nee, die klomp het Deezer en Spotify en kan kies en keur hoe en waar hulle na wat wil luister.


Mens moes in die aand die glas melk bottel en `n koepon voor jou deur los en dan was daar miraculously die volgende oggend `n vars bottel melk om oor jou pap te eet. Pap, vol carbs. Ons was nie oorgewig of ongesond nie. Ons het brood met jam op skool toe gekry. Ons het nie te veel vitamines gedrink nie en die skoolsuster het almal so een keer `n jaar van nader beskou om te kyk dat ons darem almal ok was. Nou Luka eet smoked salmon vir ontbyt en Liam maak protein smoothies in `n nutribullet en kinders google sommer hulle eie simptome.


Pa's het bier gedrink, Castle, Lion of die party animals Black Label. Niks craft bier of light bier of low carb bier en whatnot nie. Ma's het wyn gedrink, uit bokse uit. Wit of rooi, meestal soet. As ek aan my eie drank versameling dink moet ek `n spreadsheet nader trek om te kyk hoeveel tipes gin ons het en ek weet Gerhard hou van lager en ale, homebrew of craft. Niks IPA's nie en wyn moet Bordeaux styl wees, ek drink nie wyn nie maar ek doen die wynaankope op `n app.


Rugby was eenvoudiger. `n Drie het drie punte getel en as iemand daarna oorskop het dit twee punte bygesit om die drie te vervyf. Mens het vir Transvaal, Noord-Transvaal, Vrystaat, Natal of WP geskree. Daar was so twee wettige politieke partye, een baie regserig en een effens linkserig en mens kon meestal ook aflei wat mense se kerkverband was op grond van die rugbyspan en politieke party wat hulle support het. Ek dink Jannie Breedt wat in die tagtigs vir Transvaal gespeel het was my hero en na hy opgehou speel het, het ek basies ophou rugby kyk.


My lewensdroom in die 80's was dat my ouers `n Technics hifi moes koop. So silwer ene wat in sy eie glas kas gestaan het. Dit was my helaas nie beskore nie en toe ek uiteindelik geld van my eie het, het die wêreld aanbeweeg en deesdae het jy sommer net `n soundbar, so klein ding wat voor jou TV lê. Very unasuming en glad nie iets om na te kyk nie.


Ek en Gerhard was nog op skool toe ons ons eerste live show gaan kyk het. Ek dink dit was in Witbank (deesdae Emalahleni vir die wat nie in die eighties gebore is nie) se stadsaal. Bad Boys Blue. Genade dit was terrible. Hulle kom van Duitsland af, was seker maar desperaat vir sonskyn? Great rock bands was nie daardie jare lus om Suid-Afrika toe te kom nie en ons was nie die tipe mense wat Superbowl toe was om Cher, Bryan Adams en Rod Stewart te gaan kyk nie. Vandag nog gaan kyk ons enige international act wat Suid-Afrika wel besoek. Bands soos Guns n Roses kom egter hier uit as hulle al redelik oud is en ons gaan waarskynlik baie, baie lank wag om Liam se geliefde ACDC te sien. Liam se kinders gaan ons dalk moet vat, want ons gaan dalk nie meer teen daardie tyd mag bestuur nie. Sy ander favorite is Nirvana en hy was devastated toe hy uitfigure Kurt Cobain is lank reeds `n Sunbeam. Hy oscillate tussen Nirvana, R.E.M. en ACDC, soms `n Metalica.


Ek wonder soms of die eighties regtig eenvoudiger was, of was ons net klein en het net nie geweet wat aangaan nie. Dit was eintlik `n terrible tyd in die geskiedenis van ons land en daar was so baie aan die gebeur waarvan ons eenvoudig nie geweet het nie. Ignorance is bliss. Die nuus was dalk nie altyd sonder sensuur nie, maar dit was al wat ons gehad het en ons het elke aand om sewe uur moes stilbly sodat ons ouers vir Riaan Cruywagen kon sien en hoor as hy begin met iets soos 'hier volg die nuus'.


Ons kon nie obsess oor mode nie, want die res van die wêreld se giere het lank na dit verby was hier uitgekom. Party giere soos plastiek skoene genaamd bubblegummers moes egter eerder in Amerika gebly het.


Al wat ek wel weet is dat die van Rooyens waarskynlik na die 80's musiek gaan luister tot ek en Gerhard 100 jaar oud word. Hulle maak net nie meer musiek soos in die ou dae nie.


114 views0 comments

Recent Posts

See All

Augustus

Comments


bottom of page