top of page
Search
nikivanwyk

Boeke oortrek - Januarie 2021

Ek het lanklaas boeke oorgetrek…ek het dat die au pair dit doen. Hulle almal is mos mal oor lamineer en desifix, of so sê hulle. Maar nou het ons nie meer `n au pair nie, en met `n Graad 4 en `n Graad 7 is daar die jaar ekstra baie boeke.


Om boeke met desifix oor te trek is sweerlik soos om pajamas vir `n kat aan te trek. Onmoontlik en dit eindig in trane, drank (wat soos in alle Covid-19 jare nie gemors kan word nie) en oor begin. En ek weet mens moet nie `n boek judge by its cover nie, en so hoop ek maar altyd die onderwysers judge nie my kind op hoe hulle ma boeke oortrek nie.


Kyk, ek hou nie van boeke oortrek nie, maar daar is tog iets daaraan wat mens terugvat na lank gelede toe. Deesdae se boeke word ge-colour code. Elke vak het `n kleur en dan help dit veral die kleintjies om te weet Afrikaans is grys, Engels is pienk, Wiskunde is pers. Dit is omtrent hier in die storie waar Liam sê: “Jy gaan nou vir ons vertel van toe jy klein was. En hoe dit baie erger was. Julle het nie selfone of Google gehad nie en moes kilometers in die sneeu loop skool toe. Laat ek raai, julle boeke is met toiletpapier oorgetrek.”


Nee Liewe Liam. Ons het in Middelburg gebly waar die kanse op sneeu maar effentjies was en toiletpapier, darem nie. Wel good old fashioned bruin papier. En nee, die plastiek covers was nie reeds gesny en gemaak nie en niemand het vir ons labels met die skoolwapen en ons name gedruk nie. Ons moes wit stickers met blou raampies op ons boeke plak met ons name en die vakke op, handgeskrewe.


Die boeke was nie colour coded nie en ons het geen sin vir desifix gehad nie. Sien ons het die skool se boeke gebruik en ek vermoed dat jy nie verstaan hoe jaloers ek elke jaar is as jou boks met jou eie boeke en skryfbehoeftes hier by die voordeur aankom nie. Daar was `n stempel in elke boek. En dan skryf jy jou naam, die jaar en jou klas nommer in die boek. Meeste boeke was al so lank deel van die T.O.D. (Transvaalse Onderwys Departement) dat daar nie meer rye oor was nie en jy moes maar nuwe rye met potlood trek. Die arme juffrou het altyd in die stoor gesoek vir die mooiste boeke, maar so nou en dan het mens maar `n grillerige ene gekry wat nie met baie liefde gebruik is nie of daar was reeds meer as 20 name voor joune in die boek gerskryf.


Julle boeke is so mooi en het nog daardie fantastiese nuwe boek reuk. Niemand het nog ooit deur die boek geblaai nie en dis net joune. Ek is vas oortuig julle voorgeskrewe boeke is beter as `n boek oor `n seuntjie wat `n doring uit `n leeu se voet trek en dan word die leeu sy best buddy en die kind moet die leeu naderhand skiet nie. Of die vreeslike hartseer en depressing Gezina en die bruin wind. Dalk `n bietjie Karel Schoeman en die Katolieke en die Protestante as ligte vermaak? Nee, julle boeke is beautiful en modern. Goed wat mens wil lees. Maar lyk tog of youth fiction steeds altyd donker depressing tema’s het. Ek lees altyd skelm die voorgeskrewe boeke soos ek oortrek.


Ek trek die Afrikaans, Engels en Geskiedenis met meer deernis oor as byvoorbeeld Wiskunde. Ek gril effens vir die Wiskunde boek as ek hom desifix ook. Afrikaans maak ek geel, mens kan nie die vrolikste boeke van al jou vakke grys maak nie. Engels is pienk. Luka is baie opgewonde oor die pienk en Liam minder opgewonde. Daardie wiskunde handboek lyk sowaar of mens die deur met hom kan stop. Of dalk jou ‘work from home’ rekenaar skerm op hom kan laat staan vir ekstra hoogte. Ek het wiskunde nie in 1995 verstaan nie, so ek gaan ook nie in 2021 probeer nie.


Nou is al die boeke oorgetrek, en in `n global pandemic jaar sal ons sien of die rekenaar weer opstart vir `n rukkie van homeschooling en of julle actually julle tasse gaan pak en skool toe gaan. Ten minste is ons in 2021 voorbereid op die ergste. Daar is genoeg rekenaars, skerms, printers, papier en gin om ons almal deur die tweede jaar van pandemic te dra.


Ek pak my Sellotape dan weg tot 2022. Dan maak ons weer so.


90 views0 comments

Recent Posts

See All

Augustus

ความคิดเห็น


bottom of page