Daar is glitter in die voorhuis
Revue kostuums hand gewas
Die eetkamer vol stof
En die hond lanklaas gegroom
Dit is die maand Augustus
die besigste, besigste maand
Dan is die dag so kort
En die nag so lank vol stryk elke aand
So depressing sonder Sekai in Zimbabwe
die revue druk aan die een kant
Die wasgoed en skottelgoed aan die anderkant
Ek mis Desember so
Jammer C Louis Leipoldt. Daar is in die maand van Augustus maar min vir my om oor te dig. Ek kan nie dig nie. Dis te ekonomies vir my.
Ek kort baie woorde om myself uit te druk, amper so baie woorde soos wasgoed. Sekai gaan klokslag Augustus maand huis toe. Van my heel eerste Facebook memories is waar Liam sy spiderman suit dra as pajamas, want ek kon doodeenvoudig nie nog `n stuk wasgoed was nie. Die jaar 2023 is geen uitsondering nie. Sekai is al presies vier weke en sewe honderd bondels wasgoed lank weg. Daar staan dalk twee swart revue kouse tussen my en `n total nervous breakdown.
Almal met kinders op skool sal jou sê daar is nie`n erger kwartaal as kwartaal 3 nie. Liam speel rugby, sevens, golf, krieket en hy is in die revue. Revue onderwysers LOVE glitter. Daai kids se hare word geglitter dat mens hulle van die cheap seats in die Staatsteater af kan sien. Ek dink Elon Musk kan die glitter met een van sy Space X outjies sien. Maar Liam, ewig die ekstrovert love die samesyn, die bus ry, hy dans met so groot smile op sy gesig, dat ek kom selfs sonder die glitter sal uitken van ver af.
As jou kind in Graad 9 is, dan squeeze jy ook in die kwartaal beroepsvoorligting en aanlegtoetse in, want oor `n dag of twee moet Liam besluit oor die res van sy lewe. Ek weet ek is dramaties, maar goeie genade dis eintlik terrible dat mens op 15 moet besluit watter vakke jy gaan vat, dit gaan dan bepaal wat jy kan word. Gewigtige besluite. As jy crappy keuses maak gaan jy moet wasgoed was en stryk vir`n lewe. Dis ernstige sake!
Toe ons op skool was, het ek geen idee gehad wat ek wou word nie, Gerhard selfs minder. Gerhard het besluit om rekeningkunde te drop, sy gemiddeld was te sleg met rekeningkunde. Hy sou dan in die B-klas wees (Ja, A vir slim kinders, B vir medium slim kinders. Ek was natuurlik in die B klas). So het my geliefde CA man nooit die opsie as `n career gesien nie, ingenieurswese gaan probeer, oorgeslaan BCom Bemarking toe en so na `n lang tyd en `n paar draaie wel BCom Rek gaan swot.
Ek wou natuurlik`n joernalis word, maar na 'n jaar se au pair in België waar ek na 'n prokureur en 'n apteker se kids gekyk het, het ek gaan regte studeer vir al die verkeerde redes. Daarna het ek saam Gerhard, Stephan, Michelle en basies almal wat ek op die ouderdom van 21 geken het by `n klein oudit firma gaan werk, BK's gestig en direkteure aangestel en low and behold, toe word ek`n maatskappysekretaris, of `n 'sekretares' soos Liam dit noem. Mense dink natuurlik jare lank steeds ons tik, maar ek het nooit tik as 'n vak op skool gehad nie, te vol nonsens om die girly vakke te vat soos huishoudkunde en tik. As jy my sien tik, sal jy verstaan dis nie professioneel nie. Ek smile net, dis lekker om`n sekretares te wees. As jy ooit regtig wil weet wat ek doen, vra, dan kom verduidelik ek. Ons is soos unicorns, daar is baie min van ons. Ek sou nou op my high horse klim, maar ek het net nie die energie nie.
Either way. toetse, terugvoer, revue, was, stryk, kook, pak die skottelgoedwasser in, pak die skottelgoedwasser uit, repeat. Mop die vloer, want o ja, as permanente huurders as gevolg van die stand van die land, is ons huis in die mark. Ek mop bolangs en pak die onderbroeke wat op die eetkamer tafel lê weg, maak die bed op en dan voel ek ek het my deel gedoen. Ek doen die nou al vir `n maand lank. En as mens vir Sekai vra wanneer kom sy huis toe, dan sê sy "end August", wie weet wat dit beteken! Hokkie, revue, was, stryk, pak die skottelgoedwasser in, pak die skottelgoedwasser uit, stryk, repeat. Maak die bed op, pak die wasgoed weg, revue, stryk, was, repeat.
Luka sing in Grace Ensemble en `n klomp van hulle is nou al so drie of vier jaar die Little Diva's. En Divas het dagboeke, en dagboeke moet gemanage word...mens sal dink `n sekretares is opgewasse vir die taak.
Ons was op Groblerdal vir rugby. Ek was in Johannesburg vir shopping, ek was in Pretoria-Oos vir hokkie, ek was in die staatsteater vir revue. Ek was in een week in Londen en Kaapstad. Ek recover nog van daai trippie.
Liam het na `n paar jaar besluit hy speel nou weer krieket, en toe hy daai helmet op sy kop sit toe besef ek ons moet nuwe kit koop. Die kind is 'n planmaker, hy het sy kop en sy bene self gemeet, want hy het gesien sy ouers gaan hom nie díe maand by 'n winkel kry nie en online shopping is the way to go.
Liam was op busse op plekke soos Goldreef City. Luka gaan steeds elke ses weke ortodontis toe. In Augustus speel ons meer gereeld 'rock paper scissors' om te kyk wie vandag vroeg loop. Ons speel 'ek het `n interne meeting, jy het `n board meeting' en dan kyk ons wie se meeting wen, of wie verloor. In Augustus word kids soos brats afgelaai by die skool, want 'n revue boks, `n skooltas, `n rugsak,`n krieketsak en die hele kitchen sink (vuil en vol skottelgoed) pas nie so lekker op`n fiets nie.
In Augustus stop mens by die skool en dan sê Liam, doodmoeg, want hy kom na 11 in die aand eers in die bed, 'o gaats', en dan draai ek al die kar om en gaan haal wat hy vergeet het en ek kom laat by die werk, om vroeg te loop.
Post its op die yskas
post its in my boek
Fok dit, die revue hemp is weer soek
die pienk broek maak wolle
Die swart kouse skuur deur
Sekai kan nou maar huiswaarts keer,
ek mis haar meer en meer
Comments