Leana le Roux is `n jongerige mens, met `n ou siel. Bernard terg altyd dat hy die enigste IT geek is wat met `n vrou getrou het wat `n technophobe is. Leana lees graag boeke met regte bladsye waardeur mens kan blaai, niks van hierdie e-readers vir haar nie baie dankie. Niks beat in elk geval die reuk van `n regte boek nie en haar ultimate happy place is `n tweedehandse boekwinkel of die boektafel by die kerkbasaar.
Leana hou van boontjiesop wat heeldag op `n stoof staan en prut, verkieslik `n koolstoof en sy hou daarvan om mense te bel en met hulle te praat eerder as om hulle sosiale en ander prestasies op Facebook dop te hou. As die buurvrou verjaar stap mens oor met `n bos rose en `n kaartjie uit die tuin eerder as `n Whatsapp boodskap met fake hartjies en snaakse smiley mannetjies.
Leana se bloed kook en as sy vir vandag vir Bernard in die hande kry slaat sy hom seer sekerlik met Alexia oor die kop. Sy wil net die airconditioner aansit, is dit te veel gevra tydens `n hittegolf in Pretoria?
“Password not recognised” sê Alexia se blikstem vir die soveelste keer in tien minute vir Leana.
“Please Alexia I beg you, just cool down the house” pleit Leana weer vir die laaste keer.
Hoekom Bernard hulle Alexia ook nie net Afrikaans kon laat praat nie gaan haar verstand te bowe. Die Engels kom maar swaar en so met die hittegolf saam voel Leana klaar of haar brein nie werk soos dit moet nie. As Alexia net die damn airconditioner sal aansit sal Leana se dag een honderd present beter raak!
Bernard kan baie bly wees hy is nie tans tuis nie. Dat sy in `n huis moet bly wat deur Alexia en haar blikbrein beheer word is net een te veel vir Leana. Miskien moet sy maar net in haar kar klim en erens in `n koffiewinkel gaan sit en kalmeer, dan kan Bernard alles weer reset as hy later vannaand by die huis kom.
Sy gryp haar sleutels en is al in haar kar met meer knoppies en gadgets as wat werklik nodig is. Sy mis haar Volkswagen Beatle, maar Bernard hou van die nuutste tegnologie en as iets nie met airbags, ABS, onboard navigation en wie weet wat nog alles kom nie is dit nie goed genoeg vir die Le Roux’s nie. Leana druk die knoppie van die remote control om die garage deur oop te maak en niks gebeur nie. Sy skud die remote, dalk is die battery pap, steeds niks. Sy kyk in haar truspieëltjie en sien dan nog een van die verdomde rooi liggies flikker! Het Bernard nou tot die garage gaan staan en koppel aan Alexia en Bixby en heaven knows hoeveel ander van hierdie robotic chics! Leana is so kwaad sy is lus en reverse die kar in die garage deur vas. Dit sal Bernard leer om op te hou om hulle hele lewe in die cloud en op Facebook en heaven knows waar aan te wil sit!
“Hallo! Leana waar is jy” Bernard se stem boor deur die dun mure van die huis.
Leana lê rustig in die bed en lees, `n regte boek, by kerslig. Nadat sy die verkeerde password vir Alexia geskreeu het, gevolg deur `n paar woorde wat almal in hoofletters was het Alexia obviously genoeg van Leana gehad en besluit om haar `n les te leer. Alexia het doodeenvoudig elke lig in die huis afgeskakel, die TV het so een keer geflikker en niks verder nie. Die wifi is af, Leana kon nie eers haar selfoon herlaai nie. Bernard kom in die slaapkamer in met behulp van die flits op sy selfoon om hom te help navigate.
“En nou, as jy so in die donker lê? Alexia, lights on, adjust temperature to 22 degrees celcius.”
Leana sien vir die hoeveelste keer hoe Bernard se magic touch Alexia laat sing soos `n kanarie. Die ligte kom dadelik aan, die airconditioner skop in, die temperatuur in die kamer voel dadelik beter. As sy nie van beter geweet het nie sou sy sweer Alexia is jaloers en doen net vreemde goed as Bernard nie tuis is nie.
“Ag jy weet mos Bernard, ek is nie juis een vir tegnologie nie. Vannaand is daar egter nie aandete nie, Alexia wou nie die stoof aanskakel nie, jy sal maar Steers moet gaan kry” kry Leana `n klein stekie wraak in.
Bernard haat take-aways en verkies tog maar `n homemade low carb aandete. Leana voel effens beter toe sy hoor hoe Bernard gang af storm, die deure klap klap al die pad garage toe en sy hoor hoe hy met mening wegtrek Steers toe.
Leana word wakker van haar outydse wekker wat langs haar op die bedkassie in aksie spring. Vandat sy kan onthou het sy díe rooi wekker. Die wekker is saam haar deur skool, universiteit en het ook hier in die huis wat sy en Bernard deel beland. Bernard lê nog en slaap. Sy pomp hom so twee keer in die ribbes. Bernard vlieg op en lyk verward.
“Hoe laat is dit Leana? Die son skyn al! Alexia, time please? Alexia?”
Leana kyk geamuseerd hoe Bernard aanhou roep na Alexia en Alexia hom ignoreer. Serves him right dink sy terwyl sy met `n huppel in haar stap kombuis toe gaan om `n koppie koffie met die French press te maak. Bernard se perculator is aan Alexia gekoppel en terwyl Leana wag vir die ketel om te kook sien sy dat Bernard se perculator leeg staan. Sy beter maar twee koppies maak, smile sy terwyl Bernard die kombuis in storm, een tekkie al aan. Die man is duidelik diep teleurgesteld in Alexia. Hy lyk of hy wil huil toe hy sien daar is nie vanoggend koffie in sy pot nie. Leana hou woordeloos `n koppie koffie na Bernard se kant toe. Hy het die eerste koppie duidelik nodiger as sy. Bernard vat lang slukke aan daardie beker koffie. Mens sien sommer hoe die kleur terugkom.
“Ek gaan gou my rekenaar aansit, ek wil `n paar betalings maak. Ek het nou klaar die sewe uur spinning klas gemis, so ek mik maar vir agt uur. Wat is jou planne vir die dag?” vra Bernard terwyl hy sy laptop op die toonbank aanskakel.
Voor Leana kan antwoord lyk dit of Bernard in die koffie verstik. Hy staar vir die rekenaarskerm, die koffiebeter in sy hand vergete. Leana haal die beker net betyds uit sy hand voor die koffie oor die keyboard uitloop.
Leana loop om die toonbank en gaan staan langs Bernard. Sy gryp een van haar leesbrille wat die hele huis vol lê en Bernard grensloos irriteer. Sy oë is mos lank terug met die laser gefix. Haar eerste reaksie is om te lag, maar sy weet dat dit nie goeie gevolge sal inhou nie.
You have exactly 24 hours to pay me 10 bitcoin. Details will be provided via email. I now control your house. X Alexia
“Is dit miskien so?” vra Bernard soos wat hy links en regs drade uit die muur en uit Alexia begin uittrek.
Leana voel asof sy in `n movie is, `n spookstorie, want die volgende oomblik begin die airconditioner weer blaas. Die lug is vuurwarm en Leana kyk hoe Bernard bloedrooi word, of dit van inspanning, woede of hitte is weet sy nie.
“Alexia, temperature down, cool down to 16 degrees celcius!”
Is dit Leana se verbeelding of lyk Bernard nervous? Alexia ignoreer vir Bernard soos `n stopstraat en die airconditioner blaas soos die Suidooster, sonder ophou. Leana kyk hoe die appliances in hulle huis soos een man opstart. Die oond is aan, die gril is aan en die temperatuur is 180. Die mikrogolf oond maak daardie aaklike beep beep geluid wat vir Bernard so irriteer. Die tuimeldroër tuimel verwoedelik aan gister se wasgoed en die seepbolle slaan teen die glasvenster van die wasmasjien soos klotsende branders. Die ketel kook, die eierkoker fluit. Die kombuis het ewe skielik `n life of its own.
“Alexia I don’t know what you think you are doing but power off, stand down!”
Leana weet nie of dit snaaks of hartseer is om vir Bernard so te sien nie. Hy weet tog sekerlik teen die tyd dat die `n losing battle is. Sy wat Leana is het mos nou al lankal vir Bernard gewaarsku teen artificial intelligence, maar wou hy luister?
“Help my! Trek al die drade uit! Alexia, you silly cow!” Leana kyk hoe Bernard soos `n afkop hoender in hulle klein kombuis rondhol en frantically drade uit die muur uit trek.
Bernard is angering the beast, want elke keer wat Bernard `n kabel iewers uit die muurprop trek, slaat Alexia terug met selfs meer force. Leana hoor hoe die outomatiese garagedeure oop en toe, oop en toe gaan. Die Bluetooth speaker in die sitkamer het pas aangeskakel en Bles Bridges blêr deur die hele huis. “Eh Ruiter van die Windjie wil ek bly, eh vryer as die voëltjies rondom my en eh oral waar ek mag swerwe”. Gee haar krag, is die klas van goed selfs op hulle Deezer account beskikbaar!
Die ligte in die huis word nou disco style aan en af gekakel presies op die beat van die Bles Bridges treffer wat so intrusive is. Leana druk haar vingers in haar ore en probeer gewoond raak aan die aggresiewe geflikker van die ligte. Dis soos `n assault on the senses!
Leana kyk oor Bernard se skouer. Die outomatiese blinder op die stoep gaan op en af, op en af, genoeg om mens seesiek te maak en êrens anders het `n TV pas aangesit en sy hoor unmistakably die stem van David Attenborough:
“Hawksbill sea turtles have raptorlike jaws to reach hard to get to places in coral reefs. Their favorite food is sponges.”
Leana sien die TV skerm in die kombuis is aan op Teletubbies, die goedjies gee haar nog altyd die creeps. Kan die dag enigsins weirder raak wonder sy terwyl sy vir Bernard kyk wat scramble vir remotes en kabels soos wat hy van die een device na die volgende hardloop. Die laptop skerm flikker steeds met die ransom note in al die chaos.
Leana hoor erens vaagweg `n foon wat lui. Bernard haal sy selfoon uit sy broeksak en lyk amper bang vir die foon.
“Hallo? Ja, nee, geen idee waarvan jy praat nie, nee buddy, ek wil verseker nie my nuwe BMW vir twee duisend Rand verkoop nie, dis nie eers genoeg om die versekering te betaal nie! Waar hoor jy ek wil miskien my kar verkoop? Facebook. Nee sorry perd, jy het die verkeerde nommer!”
Leana sien hoe Bernard die foon vies op die toonbank neersmyt! Die foon begin dadelik weer lui. Bernard gluur vir die foon, maar antwoord dan tog.
“Hallo” sê hy, versigtig die keer. “Nee, ek het nie tans vakatures nie. Nee, nee, verseker nie! Wie in sy right mind sal iemand met Graad 8 twaalf duidend Rand `n maand betaal om plante water te gee! Waar hoor jy die snert? Twitter! Bog!”
Leana sien hoe Bernard die foon op silent sit en sy laptop nader sleep. Hy begin verwoedelik tik en Leana sien hy is besig om in te log op Facebook.
Bernard snak na sy asem, en laat sak sy kop op sy arms. Leana kyk na die skerm en sien dat Bernard se Facebook profile picture `n foto is wat sy so paar jaar terug van hom geneem het. Dis een van haar gunsteling fotos van hom. Hulle was arm studente en hulle het op haar Pa se forelplaas gaan kuier. Bernard het sy eerste forel uitgetrek en in die dam geval. Hy het sy klere uitgetrek en op `n klip gesit om droog te word, en sy kon haarself nie help nie. Sy het `n foto van Bernard geneem waar hy kniediep in die damwater staan, hy staar na die son wat sak en sy neem hom van agter af in sy birthday suit. Nie iets wat mens op Facebook sal sit nie.
“My accounts is gehack! Dis almal gehack”.
Bernard se foon wat steeds op die toonbank lê se liggies flits almal verwoedelik. Mense is obviously steeds besig om te bel vir die bargain van die eeu. `n Splinternuwe BMW vir `n song en in `n land waar die massas unemployable is moet Bernard se plant natlei job te goed klink om waar te wees.
Leana begin nou self warm kry. Die hitte van die airconditioner gekoppel met die van die oond en die tuimeldroër laat die klein kombuis soos die hel voel.
Die huistelefoon lui en Leana moet hard praat om gehoor te word toe sy oudergewoonte sê “Leana hallo. Nee Ma, ons is ok, nee, Bernard is ook hier. Nee, moet asseblief nie `n ransom betaal nie ons is regtig tuis en piekfyn!”
“Dis my Ma, sy het `n Facebook message gekry wat sê ons is ontvoer, en die ransom is 10 Bitcoins. Die arme vrou is in `n toestand, sy weet nie wat Bitcoins is of waar om van die goed in die hande te kry nie! Ag Bernard, moet ons nie maar net die tien Bitcoins betaal nie. Hoeveel is tien Bitcoins nou in elk geval?”
“Dis honderde duisende rande! Jy moet regtig jou neus soms uit daardie boeke van jou haal dan sal jy ook weet wat in die wêreld aangaan!”
Leana voel nie te jammer vir Bernard nie. Sy smeek hom al jare lank om meer in the moment te wees. Romantic dates is net dit, nie `n geleentheid om op Facebook `n check in te doen nie. En dan die flippen Alexia. Voel nog altyd of daar `n ander vrou in hulle huis woon. En der-duisende rande vir `n Bitcoin wat mens nie kan sien of in die bank of in die kluis kan sit nie. Sy skud maar net haar kop.
Leana sit langs die vuur en lees haar boek. `n Goeie old fashioned paper back Mills and Boon. Die kers flikker in die hoek, en haar voet swaai op en af op die kampstoel. Daar is `n groot gin & tonic langs haar om die muskiete weg te hou. Sy smile, want langs haar sit Bernard, met `n Wilbur Smith boek en `n glas rooiwyn in die sand langs hom. Die stilte in die Namib is oorverdowend, maar dis goed vir die siel. Nie `n honderd jaar terug nie sou die epic trip oor Facebook en Instagram gepost moes word. Elke foto met die iPhone moes gefilter word en weer geneem word soveel so dat die ys in Leana se glas gewoonlik al gesmelt was teen die tyd dat sy `n sluk kon vat.
Sy haal haar foon uit die sakkie van haar kampstoel uit en sien die nuwe SMS. Sy is glad nie so tegnologies gestremd as wat Bernard haar afmaak nie. Sy moet seker nog die Alexia manual van haar foon af delete dink sy ingedagte soos wat sy die nuwe SMS van die huis lees:
“Hoop julle geniet die kamp en die stilte x Alexia”
Comments