As mens in Suid-Afrika in 'n estate bly, is die kanse baie goed dat daar`n Facebook page of twee vir jou estate gaan wees. Midstream, waar ons bly is geen uitsondering nie. Ons het `n paar en ek sukkel om by te bly. 'Midstream Estate residents only' is die beter ene. Hier moet jy bewys dat jy in die estate bly voor admin jou op die blad toelaat. 'Midstream Estate' is `n gemors aangesien mense van plekke ver van Gauteng, soos Despatch, gereeld antiques verkoop. Daar is ook iemand wat cleansing salts verkoop. Ek het eers gedink dis soos badsout, maar as mens mooi lees is dit voodoo mumbo jumbo en die cleansing salts is glad nie om in te bad nie, maar meer om 'bad vibes' weg te hou.
Daar is `n paar tipes standaard posts wat mens op enige estate Facebook page kry. My gunsteling is die emigrasie posts. Mens weet die eerste keer as die spesifieke mens post, dat jy `n redelike lang pad saam hulle gaan stap. Die eerste plasing is oor unabridged birth certificates. As iemand eers wil weet hoe om Binnelandse Sake en die inevitable lang tou vry te spring, dan kan jy die volgende posts met redelike sekerheid voorspel.
Na die unabridged birth certificates obtain is, kan jy geld wed dat daar `n link na `n eiendomsagent se website gaan volg, want nou is die huis in die mark en die eiendomsagent kon nog nie `n koper kry nie. Elke huis is `n entertainers dream, `n plek waar mens jou gesin kan groot kry, altyd met servants quarters. Die eiendomsagent is naderhand vir `n rukkie missing in action en die huis word privaat deur die eienaar geskou. Die deel hou gewoonlik nie te lank nie, maar dis dan hier waar die huis elke week R100 000 goedkoper word. Die huis word kort hierna ook te huur aangebied. Mens weet nooit of die huis dan eventually verkoop is, en of die 'geen kansvatter' huurders opgespoor is nie.
Die volgende post is dan die soeke na gemeubileerde akkomodasie in Midstream vir twee of drie maande soos wat Mamma en Pappa klaarmaak by die werk en hulle een tot drie maande kennis werk tewryl die bloedjies die skool jaar voltooi voor hulle (meestal) in September in die nuwe land aanmeld.
Hierna kom my gunsteling deel. Die classified advertensies. Eers die groot goed, eetkamerstelle en banke, patio furniture, boks freezers en Kenwood mixers. Televisies en rekenaars. Alles wat mens se hart begeer. Die yskas en die dubbelbed matras volg, maar jy kan die yskas op `n baie spesifieke random dag kry, 1 Desember 2022 om 10am sodra die laaste bakkie Lurpak botter uitgehaal is. As jy natuurlik so gelukkig is om die yskas te kry kan jy geld wed dat jy `n freebie gaan score. Hulle het vergeet om die fancy Smeg toaster te smous en nou is die karre al by “We buy Cars” en die Uber wag om hulle en hulle 10 tasse op te laai, so vat sommer die toaster, for free! Party mense vat `n container Nederland toe, ander vat `n cube in `n container. Container mense verkoop nie hulle Nine West boots op Facebook nie, Cube mense verkoop alles behalwe onderklere op Facebook.
Daar is twee plasings in die middel van bogenoemde, ek kan nie altyd met 100% sekerheid voorspel presies wanneer die twee plasings plaasvind nie. Die eerste een is om vir die hond/kat/hamster of vis `n nuwe huis te kry. Die honde is pragtig met volledige rekords van alle inentings by Petstream. Ge-microchip, gegroom, met `n fancy bed, waterbak en alle accessories. Foto’s van `n pragtige hond/kat/hamster word saam op Facebook gelaai, die portrette lyk soms of dit deur properse fotograwe geneem is. Vir ekstra effek kan die hond/kat/hamster saam die kinders pose. Kyk vir Wagter, hy is dalk `n vreeslike groot Boerboel, maar kyk hoe hang klein Marnus hier aan sy ore! Wagter KAN nie saam nie, hy is te oud, te bang vir vlieg of dis net te duur om `n ou hond soos Wagter halfpad om die aardbol te sleep. Free to good homes only! Breaks my heart and all and all.
Die tweede post is vir die helper. Daar is altyd `n foto by, van arme Precious wat so ongelooflik hartseer lyk, hartseer, dog professioneel in haar beste gestrykte uniform. Ons is dalk hartseer, Maar Precious stryk steeds. Precious se portret het ook soms die kinders by, die kinders lyk of iemand hulle roomys gesteel het. Ma of Pa het waarskynlik die roomys weggevat vir effek. Gestrykte ge-uniformde Precious en die hartseer, hartseer Moolman van Midstream kinders. Die advertensie gaan oor hoe Precious die kinders grootgemaak het. Saam is ons deur koliek, pampoentjies, rotavirus, pottytraining en elke gesnyde tand. Precious het sertifikate, sy kan kook, bestuur, is soos familie en natuurlik is almal absoluut heartbroken oor Precious. Van al die posts of Facebook is Precious se post die een vol emosie.
Die karre is verkoop sonder `n second thought en as ons by die low value items soos Tupperware sonder deksels en `n versameling mismatched vase of groen handoeke kom kan jy aanvoel die mense is gatvol en wil die (verkoopde/verhuurde) huis nou leeg hê, maar Precious maak seer.
Precious maak baie seer, want in Australië, Nederland, United Kingdom of waar die Moolmans van Midstream nou heen trek is daar nie `n Precious nie. Almal gaan elke oggend die bed opmaak, self skottelgoed was, baddens skrop en my persoonlike absolute least favourite taak in die wêreld moet aanpak: stryk. Ma gaan nooit ooit weer bak nie. Wie de hel bak as mens self alles na die tyd moet was? Dan koop mens eerder Marie biscuits. Aan die begin gaan almal maak of dit `n avontuur is en Saterdae (en ook Sondae vir die stadige mense) sal familie tyd wees. Lekker huiswerk, gras sny, stryk, regpak, meal prep ens. Ma gaan met ywer en erns stryk, haar man sal nie lyk of hy uit die wasgoedmandjie aantrek nie. Sy egte katoen Woolworths hemde wat so mooi in Midstream was is net `n frustrasie in Sydney. Kan hy nie maar sintetiese goed dra, check plastiek vars uit China nie? `n Paar weke en niks is meer fun nie. Die kinders brom en grom as Ma en Pa sê: “Raai wat kinders, dis weer Saterdag! Laat ons skrop”. En Ma en Pa het dan nou teen die tyd ook besef drank is donders duur in die sogenaamde Eerste wêreld. Ma het al `n paar keer na `n boks wyn op die rak gekyk en Pa begin wonder of dit nie `n groot fout was om die lockdown homebrew kit op Midstream Estate Residents only te adverteer nie. Hy het die goed laat gaan vir niks nie man! Dalk moet hy maar weer pynappels en gis oorweeg om vir Ma in `n beter bui te kry! Pa is steeds kwaad oor hy nie sy single malt collection kon invoer nie en op die stadium sal `n paar bottels Bells hom soos `n connoisseur laat voel. Ma kon darem meeste van die fancy gin saam haar boek klub inkry voor die one way vlugte.
Lekker lag ek nou as ek die skryf, want lank lank gelede was ons die van Rooyens van Midstream. Ons het ons los goedere verkoop en vir Sekai `n ander huis gekry (waar mal mense haar in haar kamer toegesluit het by the way). Nie lank na ons aangekom het nie, het ons Sydney weer terug geruil vir Sekai en ons lyk impeccable elke dag in ons gestrykte klere. Daar is vrede in ons huis en Saterdae kan ons golf speel of gaan koffie drink. Hier maak ons slegs huis skoon as Sekai Zimbabwe toe gaan en met huis skoonmaak bedoel ek ons pak die skottelgoedwasser in en uit.
P.S, my kids dink vandag nog die ring om die bad is soos `n measuring tool. Mens tap water tot by die ring. Party Sydney scars is moeiliker om van ontslae te raak.
Comments